Koerania Gemeenskapskoerant

Ouers offer tyd, geld, geduld en maniere op

Dit is nie maklik om ‘n sportouer te wees nie. Veral nie as jy self ‘n entoesias is en langs die veld wil wees wanneer jou kind deelneem nie.

Behalwe dat dit ‘n duur oefening is om by te hou met toerusting, reis, verblyf en etes, is die afstande wat soms gery moet word uitmergelend. Dit is alles goed en wel as daar sportiewe deelname is, maar wanneer beserings sy kop uitsteek word dit ‘n perd van ‘n ander kleur.

Die mediese personeel wat langs die veld aan diens is, lewer gewoonlik goeie diens. Dit is wanneer die besering meer ernstig is dat ‘n ma of pa benodig word vir goedkeuring van behandeling en natuurlik om die kredietkaart of mediese fonds te laat sing!

Toeskouers is ‘n spesie op sy eie… Die skreeuende mamma, polsende pappa en jillende sibbe vorm wonderlike materiaal vir ‘n spotprent. Die taalgebruik en afbrekende opmerkings wat teenoor jong spelers op die veld gemaak word, is soms skokkend. Meneer of mevrou, was daardie kragwoord en dreigende kritiek van enige waarde?

Dit het oor die jare heen nog nooit verander nie. Elke ouer dink sy budgie is ‘n kanarie.

Dit word verwag dat ‘n ouer sy kind opvoed om respekvol op te tree en ‘n suiwer sportmangees te toon, maar wanneer daardie fluitjie blaas bly daar min respek teenoor skeidsregter of opponent oor.

Om ‘n swak verloorder te wees was nog nooit iets om na te streef nie. Vat ‘n pak wanneer die ander span beter was. Geniet die oorwinning met nederigheid, want volgende keer word die bordjies weer verhang. Dit is sport!

Sport moet geniet word en karakter bou. Ouers het ‘n verantwoordelikheid om as voorbeeld vir hul kinders op te tree. Sport neem baie tyd in beslag. Dit is ‘n duur stokperdjie. Jy moet ‘n geduldige bankbestuurder hê. Bowenal moet jy jou maniere inpak om dit op, en van die veld af, ten toon te stel.

Sien jou langs die sportveld, waar geloof deel van jou mondering moet wees.

Skink die koffie, want dit is koud in die koelte!