Volgens Niel de Klerk, Hoof: Ontwikkeling en Belegging by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, is die versekeringsmaatskappy nog besig om die skade van die brand van geboue by die Kuierstoep, te kwantifiseer. Dit is nog onbekend hoe die brand op 12 Januarie ontstaan het.
Die ondersoek het begin met ‘n struktuuringenieur wat die terrein besoek het en ‘n verslag oor die skade saamgestel het. Die ingenieur is van mening dat ‘n gedeelte van die gebou tot op vloervlak gesloop moet word. Hy het aanbeveel dat gedeeltes van mure behoue kan bly, maar dat die dak vervang moet word en dan die res van die vloere wat vervang moet word. Daar is bykomende kosmetiese herstelwerk uitgewys.
Daardie verslag is na ‘n bourekenaar gestuur wat ‘n hoeveelheidslys opgestel het wat ooreenstem met die struktuuringenieur se verslag. Hierdie hoeveelheidslys is Maandag, 16 Februarie, deur die assessor na plaaslike kontrakteurs toe versprei wat versoek is om daarop te tender.
Sodra die assessor die kwotasies ontvang sal die skade in randwaarde bepaal word, waarna die versekering die eis finaal sal kwantifiseer en ‘n uitbetaling aan Gousblom, eienaar van die gebou, sal voorlê.
Die tenderproses en finalisering van die eis behoort volgens Niel tussen 6 en 12 dae te duur.