
Kommunikasie en kliëntedienskursus in April Drie van Orania se inwoners wat gereeld met ander Oraniërs, besoekers en belangstellende persone op sosiale media of direk moet kommunikeer, het koppe bymekaar gesit om oor die noodsaaklikheid van kwaliteit diens te gesels. Daarom sal Diensdialoog in April aangebied word. Frans se Klerk, kommunikasiebeampte van die Orania Beweging, Burger Lambrechts, hoof van kommunikasie by die Orania Dorpsraad en Dia van Staden, redakteur van Koerania, is dit eens dat kliëntediens gereeld opgeskerp moet word sodat Orania kan uitblink wanneer toerisme op nasionale en internasionale besoekers se lippe is. Hulle het na verskeie vrae gekyk wat voortdurend deur mense oor Orania gevra word. Die geldige vrae is van die skoorsoekvrae geskei sodat daar gekoukus kon word oor feitelike antwoorde op spesifieke vrae.
Volgens Frans is Orania ‘n projek wat aan Afrikaners behoort. Burger beklemtoon dat die Groot Trek al gewys het dat die Afrikaner krities teenoor standaarde staan. Dia het die gedurige kwessie dat Orania duur is aangeraak en daar is ooreengekom dat ‘n vryemarkstelsel baie ruimte laat vir die aanpas van pryse. Dié drie kry gereeld die vraag of die Paul Krugerbeeld aanbid word. Hulle sê: “Ons Klein Reus kyk vanaf die monumentkoppie uit na die toekoms. Die ander beelde, soos Paul Kruger se gedenkbeeld, is deel van ons vryheid en geskiedenis. Ons aanbid geen beeld.”
Op 27, 28 en 29 April vanaf 09:00 tot 13:00 sal Dia van Staden namens Bo-Karoo Opleiding en Diamant Kommunikasie en Opleiding ‘n kursus in kommunikasie en kliëntediens aanbied. Die kursus sal veral vir ontvangspersoneel, kelners, persoonlike assistente en ander eerstekontakpersoneel aangebied word. Tydens die kursus sal persone ingelig word oor die feite en flaters van vrae oor Orania, die versterking van kommunikasievermoë, belangrikheid van kwaliteit dienslewering plus emosionele intelligensie en praktiese oplossings vir uitdagende kliëntesituasies.
Die kursusfooi vir die 3 dae, 4 ure elke dag, sal R1 500-00 per persoon beloop, wat kursusmateriaal sal insluit. Beperkte plekke is beskikbaar en individue of personeel van instellings moet dus wikkel om te registreer. Registreer jou plek by bko.co.za of stuur ‘n e-pos na karin@bko.co.za met navrae. Skakel 053 1100620 indien jy meer inligting benodig.