As inwoner van Orania, wil ek hiermee ten sterkste beswaar maak teen die opheffing en afgradering van Oramed, ons ENIGSTE mediese fasiliteit vir na-ure en naweke in Orania. Dit is heeltemal verregaande dat die Dorpsraad spog met 'n 10% groei in inwonergetalle, maar terselfdertyd word ons broodnodige mediese versorging so afgeskaal. Vertel Joost dit ook aan die buitewêreld met sy mooi praatjies op youtube oor hoe wonderlik Orania is? Vertel oom Hennie dit ook aan al die besoekers wat hy rondry in sy toerbussie? Vertel enigeen aan voornemende inwoners hoe duur 'n ambulans na-ure is as iemand sou siek word en dringend hospitalisasie benodig? Julle is besig om te woeker met Oraniërs se lewens, ons baie bejaardes en kinders. Kry julle prioriteite agtermekaar! Julle dryf bestaande en voornemende Oraniërs weg met sulke ondeurdagte besluite. Anoniem Kommentaar van OraniaMed24 Oraniamed24 het per e-pos ontvangs van die skrywe erken en genoem dat daar nie tans 'n verteenwoordiger is wat kommentaar wil lewer nie. Kommentaar van die Orania Beweging: Die Orania Beweging se werk, waarin ons ons bes doen om al die landmyne te omseil en al die aanvalle op Orania af te weer, is om Orania en die Orania-idee te verteenwoordig. Ons neem kennis van verandering van ORANIAMED se ure, en ons is natuurlik ook jammer om dit te hoor. Dit is belangrik om te onthou dat daar slegs sewe jaar gelede nie 'n ORANIAMED in Orania was nie, natuurlik sal daar dinge soms beter en soms slegter gaan, maar ons kan nie Orania se vordering vergeet nie. Die besluite wat ORANIAMED maak is privaatbesigheidsbesluite, en word nie deur die Orania Beweging of ander instelling gemaak nie. Indien die verwagting is dat ons Orania se interne sake konstant in die media propageer, terwyl die ANC, EFF en media Orania se hele bestaansreg eerder sou wou aanval, kan ek u verseker dat ons dit nie sal doen nie. Orania Beweging gaan nie die stryd in die openbaar oor die voortbestaan van Orania vol maak met interne sake nie, dit is vir ons as inwoners om onder mekaar te hanteer. Ons as instelling is ongelooflik dankbaar vir die harde werk wat deur Dr Nothnagel en sy span gedoen word. Ons sal voortgaan om Orania tot die heel beste van ons vermoë te bemark in die hoop dat nog dokters, susters, verpleegsters, spesialiste ensovoorts deur ons kommunikasie van Orania hoor en hopelik hier vestig en by die span aansluit. Kom ons werk saam om Orania 'n aanloklike bestemming vir nog mediese personeel (en ander Afrikaners) te maak, sodat hulle hierheen kom en ook saam kom bou.
Groete van die Orania Beweging.




