← Kultuur

· Deur Dia van Staden

Tevrede na ’n prag bekendstelling

Meer as 200 mense het die geleentheid bygewoon en was almal baie bly dat 'n lieflike reënbui laatmiddag die ergste hitte verdryf het.

Leon van Nierop se kwinkslae en stories van skrywers kleur 'n onderhoud behoorlik in en laat die gehoor tuis voel.
Leon van Nierop se kwinkslae en stories van skrywers kleur 'n onderhoud behoorlik in en laat die gehoor tuis voel.

Hospitaal Weltevreden is Riaan Grobler se tweede roman wat op Maandag 3 Februarie op luisterryke manier by die pragtige Bont Huijs Kunsateljee in Pretoria bekendgestel het. Meer as 200 mense het die geleentheid bygewoon en was almal baie bly dat 'n lieflike reënbui laatmiddag die ergste hitte verdryf het. Die gehoor het bestaan uit bekendes en bemindes wat graag Riaan se mooi oomblikke wou deel. Die program is afgeskop met Révan Luis wat die gehoor verwelkom het. Die Rooiwynprofeet het 'n heerlike atmosfeer geskep met sy goeie stem en kitaarspel. Werner Beukes het by hom aangesluit vir 'n gesamentlike nommer. Die ervare Leon van Nierop het die boekespreking gelei en kon met sy maklike gesels 'n hele paar nuwe feite oor Riaan se lewe, sy werk en sy skryfproses laat verklap. Riaan en sy sangmaat, Jomarie, het 'n paar pragtige duette gesing en Leon Ferreira het die trio vir 'n splinternuwe lied voltooi. Riaan se debuutroman, Geheime op Philadelphia, is reeds in sy vierde druk en dit is duidelik dat Hospitaal Weltevreden in sy voetspore sal volg. Van Riaan se skoolmaats, werkkollegas, bekende sangers, vriende en familie het die aand saam geniet terwyl daar heerlik geëet en gedrink is en natuurlik boeke gekoop is. Hospitaal Weltevreden gaan die eerste van drie boeke wees wat op mekaar volg. Dié trilogie beloof om baie intriges van die lewe te ontsluit. Riaan noem tydens die onderhoud dat die karakters vir hom werklik begin leef en dat hy mense waarneem om eienskappe van elkeen raak te skryf. Kyk dus in die toekoms uit vir die trilogie wat deur LUCA uitgegee sal word.

Riaan Grobler tydens sy onderhoud met Leon van Nierop oor sy nuutste boek, Hospitaal Weltevreden.
Riaan Grobler tydens sy onderhoud met Leon van Nierop oor sy nuutste boek, Hospitaal Weltevreden.
Hendri Myburgh, Tanya van Niekerk en Dia van Staden het Riaan geluk gewens met sy nuutste skryfsel.
Hendri Myburgh, Tanya van Niekerk en Dia van Staden het Riaan geluk gewens met sy nuutste skryfsel.
Riaan Grobler en Jomari sing 'n paar duette vir die waarderende gehoor.
Riaan Grobler en Jomari sing 'n paar duette vir die waarderende gehoor.
Leonie van Rensburg, eienaar van die gewilde Graffiti Boeke, het die boekverkope hanteer.
Leonie van Rensburg, eienaar van die gewilde Graffiti Boeke, het die boekverkope hanteer.
Voorblad van Koerania - Februarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar