← Nuus

· Deur Dia van Staden

Mediese dienste vir Vanderkloof

Dié respek en 'n diepgaande begrip vir die uitdagings wat dr. Nothnagel in die gesig staar, het Gerrit gedryf om 'n volhoubare oplossing te vind.

Gerrit Crous, eienaar van die Monte Crous Hotel, se respek vir dr. Philip Nothnagel het reeds tydens die grendelstaat ontstaan toe dr. Nothnagel sy ma se mediese sorg oorgeneem en haar tot herstel begelei het. Dié respek en 'n diepgaande begrip vir die uitdagings wat dr. Nothnagel in die gesig staar, het Gerrit gedryf om 'n volhoubare oplossing te vind. Dr. Philip Nothnagel het vir meer as 6 jaar diens in Orania gedoen, maar die werkslading om 'n 24-uur diens alleen te lewer, is nie volhoubaar nie. Volgens Gerrit, wat 'n aandeelhouer in die ontwikkeling van die nuwe hospitaal in Vanderkloof is, het dr. Nothnagel by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy aangeklop vir hulp nadat vele pogings onsuksesvol was om 'n bykomende dokter te kry om saam met hom in Orania te werk en daar te woon. Gerrit kon nie toelaat dat 'n gekwalifiseerde dokter emigreer of uit die gebied verhuis sonder om na 'n oplossing te soek nie. “Die dokter wat in Orania of Vanderkloof wil werk, moet nasiebou en kultuur verstaan, ons geloof deel en 'n goeie werksetiek hê,” sê hy. Die munisipale swembad in Vanderkloof was 'n olimpiese swembad wat Gerrit sowat drie jaar gelede met 'n tender aangekoop het. Die moontlikheid om die swembad weer te heropen, het finansieel nie sin gemaak nie. Daar is oorweeg om 'n skool met die hulp van beleggers op die 1.5ha perseel te bou totdat die behoefte aan 'n hospitaal ontstaan het. Die goeie nuus is dat boumateriaal reeds afgelewer is en bouwerk binnekort sal afskop. “Ons sal moontlik wegtrek as 'n mediese sentrum, alhoewel die aansoek vir 'n hospitaallisensie ingehandig is,” vertel Gerrit. Die betrokkenheid van die plaaslike munisipaliteit en ander rolspelers word tans bestuur. Dr. Philip Nothnagel en dr. Louis Oelofse het as adviseurs opgetree, en kenners in Gauteng het gehelp om planne vir die nuwe hospitaal op te trek. Dr. Nothnagel het reeds 'n spreekkamer in Vanderkloof waar hy deeltyds dienste lewer. Gerrit vertel dat die mediese toerusting wat tans in Oramed beskikbaar is, aan dr. Nothnagel behoort. Die plan is om 'n nuwe ambulans aan te koop en 'n soortgelyke mediese pakket soos Niamed word ondersoek. Pasiënte van al die omliggende dorpe sal met een van twee bussies gehaal word om mediese sorg te kry, wat die plan volhoubaar sal maak oor 'n groter gebied. Hy beklemtoon die feit dat bejaarde inwoners van Orania en Vanderkloof behoue moet bly vanweë die mediese dienste wat aangebied word. 'n Helikopter-landingsblad word agter die Vanderkloof hospitaal beplan. Spesialiste sal weekliks die mediese sentrum kan besoek deur in te vlieg vir hul afsprake. Die plan is om die apteek in Vanderkloof te behou, waar dr. Pieter Pelser steeds diens sal doen. 'n Permanente dokter sal die aptekersdiens met voorskrifte versterk. Gerrit vertel dat hy self in Orania wil belê omdat hulle aanhangers van die idee is. Daar word volgende week by die Orania-apteek uitgebrei met die inbou van 'n spreekkamer en noodkamer. “As ons die ondersteuning kry van betrokke persone, sal dit 'n bate vir Orania wees,” sê hy. Drie algemene dokters en een spesialis het reeds aangedui dat hulle belangstel om van diens te wees. “Aan die einde van die dag gaan dit oor die mediese dienste wat aangebied word om inwoners gemoedsrus te gee,” sê 'n dinamiese Gerrit Crous.

Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Kortliks – Oktober 2026
Nuus/

Kortliks – Oktober 2026

Die verdere ontwikkeling van die Karoosig-aftreeoord in Orania vorder goed. Elf bykomende woonstelle word beplan en konstruksie daaraan het reeds afgeskop.

Deur KoeraniaLees berig
Foto by die berig: Orania-pad vorder
Nuus/

Orania-pad vorder

Die randstene word tans gelê en die Orania Stadsboufonds se Oewerpad-projek het ’n nuwe fase betree.

Deur KoeraniaLees berig