
Orasol gedeeltelik aangeskakel
Orania se 4.8 MWh battery is op 29 Augustus met die netwerk geïntegreer en aangeskakel. Die optimalisering van die beheerstelsel word steeds ontwikkel en die Orasolspan hoop om op 21 September die finale aanskakeling te doen, aangesien sekere noodsaaklike drywers nog deur ingenieurs van verskaffers geinstalleer moet word. Dié gebeure vind maande na die aanvanklike spertyd plaas, maar dit bly ‘n groot tree na energie-onafhanklikheid.
Koerania per fiets by jou voordeur
Willie Nel het namens die Wilcogroep hul eerste aflewering van die negende uitgawe van Koerania as ‘n intekenaar in ontvangs geneem. Petrus Rens sal maandeliks met sy fiets die Koerania by intekenaars aflewer. Daarmee sal hy ‘n klein inkomste kan genereer en beslis met sy vriendelike geaardheid die harte van baie lesers steel. Stuur ‘n e-pos na redakteur@koerania.co.za om as ‘n intekenaar te registreer of besoek www.koerania.co.za vir die besonderhede.






