← Nuus

· Deur Dia van Staden

Fakkeldraers van Orania na die VSA

“Ons gaan met lae verwagtinge, maar glo Orania het 'n boodskap, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die wêreld.

Riaan Jacobs – ons boodskap is nog altyd demografie.
Riaan Jacobs – ons boodskap is nog altyd demografie.

'n Afvaardiging van vier manne beplan om op Maandag 17 Maart 'n vlug na die VSA te haal om self Orania se boodskap van selfbeskikking aan almal wat wil hoor te gaan oordra. “Ons gaan met lae verwagtinge, maar glo Orania het 'n boodskap, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die wêreld. Ons glo dit is eties en moreel regverdig om dié boodskap te deel. Ons wil nie oor iemand heers nie. Ons wens vir ander wat ons vir onsself wens. Ons wil kultuur preserveer, en dit word tans gemarginaliseer,” sê Riaan Jacobs, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, met oortuiging. Riaan se kamerade tydens die Amerikaanse besoek is dr Carel Boshoff, ondervoorsitter van die OVR, Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging en Ernst Roets, getroue Orania ondersteuner, OB-lid en waardevolle bondgenoot. Tydens 'n gesprek met dr Carel Boshoff noem hy dat dié besoek nie mik om 'n eenmalige aksie te wees nie. “Binne 'n breë verband is die doel vir ons besoek tweeledig: om die globale situasie beter te verstaan en om tweedens deel van die situasie te wees.” Hy beklemtoon die belangrikheid dat Orania se idee verstaanbaar gemaak moet word. Volgens Joost is daar twee hooftemas wat hul besoek regverdig. “Elke gesprek wat oor Suid-Afrika gevoer word, waar daar oor bedeling gepraat word, lei telkens terug na Orania toe. Potsenders, nuusagentskappe, politieke analiste, en ander praat oor ons. As Orania 'n uitvloeisel is van gesprekke, dan wil ons saam gesels.” Joost beaam dat New York as demokratiese staat met sy meer as driemiljoen republikeinse ondersteuners beslis die potensiaal het om Orania te steun. Ernst Roets, wat reeds in Amerika is, vertel vir Koerania dat hy daarna uitsien om by die groep in Washington aan te sluit. Sy besoek aan die VSA sluit gesprekke en skakeling in oor sy eie Pionier-inisiatief wat onlangs die lig gesien het. Hierin beywer hy hom vir 'n meer volhoubare politieke bedeling en groter vorme van vryheid vir Afrikaners en ander volke in SA. “Ek werk daaraan om die Oraniërs te help om met die Staatsdepartement en verskeie ideesentrums te skakel,” verduidelik Ernst. Die kamerade bevestig dat hul vaste afsprake het waar daar met die Jong Republikeine in New York, politieke adviseurs en vriende van Orania gesprek gevoer sal word. Hulle reaksie op die vraag of hul nie vrees dat hulle vir hoogverraad aangekla sal word nie is ferm. “Ons is met 'n beginselsaak besig wat ons na aan die hart lê. Niks is risiko-vry nie. Dit sal ook 'n risiko wees om nie te gaan nie. Ons gaan in geloof en moet deel vorm van gesprekke wat Orania betrek. SA is strategies en vir ons minerale vir Amerika belangrik.” Die groep kan nie al hulle planne deel nie, want daar word met 'n vergrootglas na hulle bewegings gekyk. Hulle is egter dankbaar vir deure wat oopgaan en beskou dit as genade. Die feit dat Orania se eerste mediaverklaring, na President Donald Trump se aankondiging van 'n reddingsboei na SA, nie daarop gerig was om vir aalmoese bakhand te staan nie, is goed ontvang. “Ons dink ons het 'n model vir wêreldvrede en Orania se kultuurboodskap moet gehoor word.” Riaan noem dat Orania se internasionale voetspoor en profiel enorm is en dat daardie ondersteuning ontgin moet word. “Wat ons daarmee moet doen bly 'n proses, en ons besoek se uitkoms sal bepaal of Orania groei sal beleef. Enige saak groei as daar vertroue is en ons sal graag vertroue wil wek.” Carel sluit sy kommentaar af met: “Die Boere is terug! Ons stap die beinvloedingspad – nie die onderhandelingspad nie!” Koerania en die gemeenskap van Orania vertrou dat dié ambassadeurs van Orania op 28 Maart sonder enige hoogverraadklagtes, maar met groot sukses sal terugkeer.

Carel Boshoff – ons was akteurs op die verhoog van die geskiedenis. Ons het die laaste jare weggeraak, maar daar is 'n hele aantal redes om te sê dat die Afrikaners terug is.
Carel Boshoff – ons was akteurs op die verhoog van die geskiedenis. Ons het die laaste jare weggeraak, maar daar is 'n hele aantal redes om te sê dat die Afrikaners terug is.
Joost Strydom – ons kan nie toelaat dat daar oor ons gepraat word, en ons praat nie saam nie.
Joost Strydom – ons kan nie toelaat dat daar oor ons gepraat word, en ons praat nie saam nie.
Ernst Roets – daar is hoë profiel skakeling waarmee ek behulpsaam kan wees.
Ernst Roets – daar is hoë profiel skakeling waarmee ek behulpsaam kan wees.
Voorblad van Koerania - Maart 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2025, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar