
Die bekendstelling van die boek, Die Tyd van Verwoerd, deur dr. L.J Bothma is op 4 Desember in Orania aangebied. Sowat 60 belangstellendes het na dié ses jaar lange navorsingsreis kom luister vir insigte oor hierdie tydperk in ons geskiedenis. Die boek fokus op die tyd van Verwoerd (1901–1960) en poog om hierdie tydperk eerlik en in konteks te plaas, sonder om apartheid te verdedig of te veroordeel. As die Here wil, sal 'n tweede volume volg, wat die afloop van hierdie tydperk in ons geskiedenis vertel.
Hannes du Preez, 'n inwoner van Orania het die gesprek met wel deurdagte ondervraging gelei, sodat 'n volledige oorsig van die boek bespreek is. “Dit was vir my 'n baie verrykende aand, met so baie te leer uit die geskiedenis.” Mede-organiseerder, Lynice de Beer beskryf die geleentheid as besonders, veral omdat van die Verwoerd-familie die aand self bygewoon het. Dr. Bothma, wat sy skryfwerk streng op feite baseer, het tydens die gesprek sy kernboodskap beklemtoon: “Solank niemand net slimmer probeer wees as die geskiedenis nie.” Dr. Bothma het bekendheid verwerf met boeke soos Die Buffel Struikel, Rebelspoor en Vang 'n Boer. Hy is daarop ingestel om deeglike navorsing te doen en draai nie doekies om nie. Hy gaan haal die storie by Jan van Riebeeck en trek die lyne deur tot by die opspraakwekkende 1948-verkiesing toe die ikoniese Jan Smuts in Standerton verslaan is. Bothma plaas die leser terug in tyd. Dan werk hy stap vir stap, jaar vir jaar en later selfs dag vir dag vorentoe, soos die Nasionale Party en sy leiers met Verwoerd al meer prominent, meedoënloos voortstoom na die doelwit. Na afloop van die formele program het dr. Bothma vrae vanuit die gehoor beantwoord, en die aand is afgesluit met heelwat boeke wat verkoop is en dr. Bothma wat elke nuwe boekeienaar se boek spesiaal geteken het. Die eerste druk is reeds uitverkoop! Die tweede drukoplaag is tans by die meeste Suid-Afrikaanse boekwinkels beskikbaar.






