
Hulle het op Dinsdag 10 Desember met 'n 2x4 bakkie vanaf Alexanderbaai begin reis om Donderdag 12 Desember op Port Nolloth te arriveer. Pa en seun het by inwoners van die dorp gekuier en in hulle erf gekamp. Op Maandag 16 Desember om ongeveer 08:30 het Peter Welgemoed, 'n Oraniër, en sy seun Ethan (12) by McDougalsbaai se braaiarea, net duskant die rotse gestop om moontlike duikplek te ondersoek. Skielik het 'n herrie losgebars met die toeloop van, na bewering, 8 voertuie en 24 persone wat vyandig en gewapen op hulle toegesak het. Peter het probeer om die situasie op te som en vir 'n vriendin, Benita, gevra om Ethan uit die spervuur van die situasie te neem. Ethan vertel hoe groot hy geskrik het. “Ons was net van plan om te gaan duik, toe die klomp voertuie oor die duine en van oral aangery kom en die mense uit hul voertuie klim. Ek het dadelik die wapens opgemerk.” Peter herroep dat die groep se houding onmiddellik dreigend en aanvallend was. “Dit was duidelik 'n magsvertoon.” By verdere navrae het die groep uit lede van die SAPD, SAPD se honde-eenheid, lede van Doeane, die Groen Skerpioene, weermagpersoneel en Departement Bosbou, Vissery en Omgewingsake bestaan. Peter vertel dat sy grootste vrees was wat met sy kind sal gebeur as dinge verkeerd sou loop. Soveel gedagtes het deur sy kop gespoel, maar hy het geweet dat hy nie die feestyd agter tralies wou deurbring nie. “Mens hoor soveel stories van soortgelyke goed wat skeefloop en mense agter tralies laat beland, al is hulle onskuldig,” beklemtoon hy. Die verteenwoordiger van die Departement het Peter daarvan beskuldig dat hy die strand stukkend ry. Daar was twee persone wat vorms voltooi het en opmerklik aanvallend was. Hy moes verskeie persoonlike vrae beantwoord wat op die aanklagvorms ingevul is. Die oorspronklike vorm wat aan Peter oorhandig is was 'n bevel om in die hof te verskyn. “Die aanklag was dat ek op plekke gery het wat nie vir publiek bedoel is nie. Dit was egter 'n klipharde en gevestigde pad waarop ek gery het. Daar ry bepaald gereeld voertuie. Hulle het fout gesoek en wou 'n punt bewys. Alles het binne 20 minute gebeur,” bevestig hy. Die feit dat daar geen aanwysings of kennisgewingborde is wat sou aandui dat niemand of geen voertuie daar toegelaat word nie, is deur lede van daardie gemeenskap aan Koerania bevestig. “Soos hulle gekom het, so het hulle gegaan,” sê Peter half verslae. Hy het dadelik 'n paar oproepe gemaak om advies te kry, sodat hy die situasie reg kon hanteer en nie emosioneel sou optree nie. “Dit was 'n vakansiedag en ek wou nie die dag bederf nie, daarom het ons wel besluit om, met permitte, te gaan kreef uitduik. Terwyl ons in die water was het dieselfde groep teruggekeer, maar ons nie weer genader nie.” Brazil, 'n gewilde kampeerplek naby Kleinzee, ongeveer 90km van McDougalsbaai af, het kort daarna deurgeloop. “Elders in Suid-Arika is Geloftefeeste bygewoon, maar op die noordelike Weskus is daar blykbaar jag gemaak op onskuldige kampeerders wat dié vakansiedag wou benut deur vredevol saam met gesinne en geliefdes uit te kamp,” dui Peter ontsteld aan. Volgens Sarel Stone, takvoorsitter van AfriForum op Springbok, is die saak nog lank nie afgehandel nie. Hy vertel dat Operasie Pakisa jaarliks geskied en word aangewend om ongewenste elemente van die strande en uit die gebied te hou. “Kampeerders wat al vir jare by Brazil kamp, waar daar niks is nie en elkeen met groot onkoste en moeite daar kamp, is getraumatiseer deur die manier waarop Operasie Pakisa uitgevoer is.” Die meerderheid boetes is kort na die voorval teruggetrek. Peter het Maandag 6 Januarie verneem dat syne ook teruggetrek is. “Die laaste ding wat ek wil doen is om 'n strand of die ekosisteem te beskadig. Ek verstaan die wette van die natuur,” deel Peter ons mee. Volgens Veronica van Dyk, 'n inwoner van die gebied, is die algemene gevoel onder die plaaslike gemeenskappe van Port Nolloth, McDougalbaai, Kleinzee en Brazil dat die verteenwoordigers van elke entiteit hul mag wou ten toon stel en nie wetlik opgetree het nie. “Die voorvalle het moontlik baie mense afgeskrik, maar aangesien ek niks verkeerd gedoen het nie, sal ek nie in die toekoms die gebied vermy nie,” sê Peter met oortuiging.




