Ek het hierdie week met ’n ongemaklike gedagte rondgeloop. Dis nie iets wat ek gewoonlik doen nie. Ek verkies om my oor groot vraagstukke eerder met ’n boereworsrol en ’n koppie koffie te bemoei. Maar hierdie een wou nie wyk nie. Toe ek sien dat Ernst Roets en Lex Libertas besig is met ’n veldtog om 3 000 wit kruise op die National Mall in Washington D.C. op te rig ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasaanvalle, het ek myself een vraag gevra: Waar is Orania? Nou, wag net, voor iemand sy bloeddrukmedikasie gaan haal. Ek vra nie hoekom Orania niks doen nie. Ek vra hoekom ek nie honderde Oraniërs sien wat sê: “Waar kan ek help?” Want as daar een plek op aarde is waar mense die werklikheid van plaasmoorde nie as ’n politieke debat sien nie, maar as iets persoonliks, is dit mos Orania. Dis ons mense. Ons familie. Ons geskiedenis. Ons gesprekke om die braaivleisvuur. Ons hoef nie met mekaar oor alles saam te stem nie. Genadiglik doen ons dit ook nie. Ons kan stry oor tamatiesous op ‘n boereworsrol. Ons kan mekaar verbeter oor “e-pos” en “e-mail”. Ons kan drie komitees stig om te besluit watter kleur die nuwe bankie op die dorp moet wees. Maar as Afrikaners se geskiedenis en hul dooies onthou word, behoort dit een van daardie seldsame oomblikke te wees waar niemand vra wie die voorsitter is nie. ’n Wit kruis vra nie na jou politieke party nie. ’n Wit kruis vra nie of jy links of regs is nie. Hy vra net dat iemand onthou. Miskien is dit juis die punt. Ons praat dikwels van selfbeskikking. Maar selfbeskikking begin nie by grond of grense nie. Dit begin by die besluit om vir jou eie mense op te staan, selfs wanneer die monument duisende kilometers van jou af staan. Ek verwag nie dat elke inwoner van Orania môre ’n vliegtuig Washington toe moet bespreek nie. Maar ek wonder of ons nie ten minste dieselfde entoesiasme vir hierdie projek kan hê as wat ons vir ’n pannekoekfees, ’n kultuuroptog of die opening van ’n nuwe slaghuis het nie. Gaan teken gerus die aanlyn petisie, en as jy kan, borg ’n wit kruis. Meer inligting is beskikbaar by www.lexlibertas.org.za. Ek is Wynvlieg Woltemade, en ek sit vanaand op my stoep met ’n koppie koffie in die hand en kyk hoe die son stadig agter die Karoo se horison verdwyn. En ek wonder… As daar 3 000 wit kruise vir ons mense in Washington geplant gaan word… …behoort daar nie ook ’n hele paar van hulle te wees wat sê: “Geborg deur Orania.”
· Deur Wynvlieg Woltemade
Waar is Orania se Wit Kruise in Washington?
Ek het hierdie week met ’n ongemaklike gedagte rondgeloop. Dis nie iets wat ek gewoonlik doen nie.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2026, bladsy 2
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


