← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Verantwoordbare burgerskap in Orania – Maart 2025

Alles onder die koningskap van die Here Jesus Christus!

Alles onder die koningskap van die Here Jesus Christus! Dit is die kern wat die apostel Paulus leer as hy in Efesiërs 1:10 sê: “... wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig ...” Dit is God die Vader se ewige voorneme om alles in hemele en op aarde onder sy Seun, ons Here Jesus Christus, se hoofskap te verenig. Orania bely Jesus Christus as koning Wat 'n wonderlike voorreg dat 'n gemeenskap soos Orania dit openlik bely. In ons dorpskantoor en webblad (My Orania) stel ons voor God en die wêreld dit onomwonde: “Orania se Godgegewe roeping is om ... 'n lewende getuienis van Jesus Christus se koningsheerskappy vir die wêreld te wees.” Hierdie getuienis is die wonderwerking van die Heilige Gees self deur wedergeboorte en geloof. Paulus getuig self daarvan: “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus 'n vervloeking noem nie, en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” (2 Kor. 12:3). Orania sê dit amptelik: “Jesus Christus is die Here”. Christus erf die nasies Die Here Jesus Christus is die Hoof van Orania. Dit het geweldige implikasies en verantwoordelikheid. Ons het ons openlik verbind aan die lewende Seun van God, wat deur sy Vader aangestel is as die Koning van die konings. God die Vader se belofte aan sy Seun strek wyd, dit sluit selfs volke se lewens in. God die Vader salf sy Seun met die Heilige Gees tot die Messias. God die Vader het aan sy Seun, Jesus Christus al die nasies tot erfdeel gegee. So staan dit in Psalm 2:8. “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” God is soewerein oor alle dinge. Die Here regeer. Jesus Christus is die hoof van alles en almal. Gemeenskapsburgers Op Orania wil ons gemeenskapsburgers wees wat hierdie koningskap van Jesus Christus erken. Ons wil 'n Christelike dorp en stad en streek wees, en as die Here ons seën – eendag – 'n volwaardige Christelike republiek. Die woorde 'Christelik' en 'Christen' is onlosmaaklik verbind aan dié persoonlike Woord: Christus. Christus wat gesalfde beteken, die Messias. Christus bepaal dus in alle gevalle wat Christelike optrede behels – ook vir volksburgers in 'n gemeenskap wat besig is om 'n republiek te vestig. God se aanstelling van sy Seun as hoof oor alle dinge vereis van ons verantwoorde burgerskap. Ons moet met ons woorde en werke ant-woord op dié Woord van God, Jesus Christus ons hoof. Vir wie luister ons rêrig?

Op Orania word al ons optrede en redenasies, al ons uitgesproke en weggesteekte bedoelings gemeet aan hierdie een liniaal: stem dit in met die koningskap van God se Seun. ( 1 Tim. 6:3 ). God doen hierdie beoordeling deur sy Woord en Gees. Hy fel sy oordeel hiervolgens. As ons gewaag het om in Orania te sê dat die Here Jesus Christus ons Koning is, dan moet ons weet dat God ons daarby hou. Hier is baie dinge om voor dankbaar te wees op Orania, maar hier is ook nog baie onreg en uitbuiting wat God wil regstel. Hoe word en bly 'n dorp of stad, 'n volk selfs, gehoorsaam aan die Here in hulle burgerlike lewe? Die Heilige Gees stel 'n eenvoudige vraag aan ons Oraniërs: na wie luister ons regtig? Na God? Of na ons eie wil, of na die duiwel met sy leuens, of na die wêreld met sy ideologië, of na ons drange, of na ons bloed, of na ons vrese? Wie is regtig Orania se God? Die een vir wie jy luister en gehoorsaam, dié is jou God. So roep die Here ook ons weer tot 'n nuwe gehoorsaamheid: “Luister na My, julle wat hard van hart is, julle wat ver is van die geregtigheid! Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie.” ( Jes. 46:12-13 ). Voorreg en plig Om 'n verantwoordelike burger te wees is 'n heerlike voorreg en 'n heilige plig. Jesus Christus is die hoof van alle dinge – klein en groot – ook in Orania. Laat ons met ons hele lewe, met letterlik alles wat ons dink en doen – die koningskap van Jesus Christus erken en eerbiedig. Dan kan ons lewe in die verwagting van ons Christelike republiek wat kom.

Voorblad van Koerania - Maart 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2025, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar