← Kultuur

· Deur Wynvlieg Woltemade

Van Trompie tot TikTok: die Bokshaarbende

Ons het grootgeword met Trompie en die Boksombende.

Ons het grootgeword met Trompie en die Boksombende. 'n Paar seuns, 'n boomhuis, en so nou en dan 'n opdons. Dit was romanties gemaak- die seun van die volk wat leer hoe om sy plek te hou. 'n Stoeigeveg het beteken jy's deel van iets, jy leer jou les, en almal het weer saam gesit op die stoep met 'n toebroodjie en stroop. Maar vandag lyk dit anders. Daar's geen boomhuis nie. Daar's 'n WhatsApp-groep. Dis nie net meer net seuns met vuiste nie- dis meisies en seuns met fone, met video's, met slegsê-stemnotas. Selfs psigologiese en letterlike afpersing. En die opdonsery is nie meer 'n blou oog nie. Dis 'n hele dorp wat sien hoe iemand voor 'n kamera gebreek en geboelie word. Dis maklik om te sê: “Dis net kinders.” Maar iets broei hier. Ons het 'n kultuur van “wees sterk, hou jou plek, moenie huil nie.” Nou kyk ons hoe daardie idee skeefloop in kinders wat mekaar sterk wil wys- en dogters wat mekaar wreed trap om dit te bewys. Die nuwe bendehuis is nie meer 'n houtboom met 'n touleer nie. Dis 'n groepchat met gifs en emojis- en die uitsluiting sny skerper as 'n vuis. En ja, soms word dit handgemeen, en dit lyk nie meer na speletjies nie… Ons kan nie maak asof dit onskuldig is nie. Want dit raak aan ons kultuur, ons dorp, ons mense. Ons mense maak nie so nie. En as ons hoofde, leiers en ouers nie begin sê en doen nie, dan gaan die nuwe bendehuis net groter word- en ons gaan eendag wakker word in 'n dorp wat nie meer soos Orania lyk nie. Ek's Wynvlieg Woltemade. Ek hou vas aan Trompie se touleer- maar sien hoe ons kinders eerder klouter op data as op dissipline. En dis nie 'n klim wat mooi eindig nie.

Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar