As jy al so entjie in jare gevorder het, dan weet jy dat foute jou vorm. Ons het elkeen al lang trane gehuil oor die foute wat ons gemaak het. Die slegte nuus is dat jy nooit te oud is om foute te maak nie. Beteken dit dat ek meer gereeld in myself en my vermoë twyfel? Of in my oordeel? Of in my besluite? Die menslike faktor kan tog so maklik die twyfel na vore laat tree. Wanneer ons werklik ons vertroue in die Vader plaas, dan word foute met so tikkie genade en sagmoedigheid bedek. In Matteus 14:31 staan daar geskryf: “En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” Dit is ongelukkig maklik om in ons geloof te wankel. Ek voel gereeld soos ‘n pasgebore kuiken wat maar waggel waggel loop tot my bene sterk of slim genoeg is om my gewig te dra. Dieselfde wanbalans is wat my motiveer om te leer. Om waagmoed aan die dag te lê lei my gereeld na onbekende situasies, mense of plekke. Het ek ‘n allemintige geloof? Nie altyd nie. Twyfel ek gereeld daarin of ek die regte besluite neem? BAIE keer! Weet ek dat God in beheer is? ALTYD! In Jakobus 1:6 lees ek: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.” My mosterdsaadgeloof is wat my oor die golwe van onsekerheid dra. Voordat ek en jy by die troos uitkom, word ons gelouter omdat die vuurdoop nie ‘n eenvoudige ervaring is nie. Die hitte wat twyfel en trane bring skep ‘n omgewing waarin veg of vlug na die enigste opsies klink. Om deur die newels van emosies te breek, sodat ons weer by die rasionele in die brein kan gaan aanklop, is ‘n louterproses. Die beste plek vir twyfel is op ons knieë. Daar waar God ons in liefde ontmoet – in gebed. Wanneer Sy troos op ons rus is dit ‘n ongekende vrede wat alle verstand te bowe gaan. Mag jou besluite ongetwyfeld positief wees en jy vertroue in jou eie vermoëns hê. Jy is uniek geskep. Moet nie probeer inpas nie!
Die wêreld is nat en die winter begin sy jas aantrek. Skink ‘n stomende beker koffie (of tee) en kyk die wêreld vierkantig in die oë. Troos is net om die draai...




