← Nuus

· Deur Du Preez de Villiers

Twee vlieë met een klap

Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in die VSA is daar reeds meer as 17 000 aansoeke ontvang, wat ongeveer 50 000 mense verteenwoordig.

Dit is opwindend om die reaksie van die verskeie belange- en belangstellingsgroepe dop te hou te midde van president Donald Trump se uitvoerende opdrag dat Afrikaners vlugtelingstatus in die Verenigde State van Amerika (VSA) mag kry. Vir Afrikaners, wat vir dekades moes veg vir erkenning en kulturele oorlewing, is hierdie wending voorwaar 'n vars briesie, indien ons nie totaal uit die veld geslaan is nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in die VSA is daar reeds meer as 17 000 aansoeke ontvang, wat ongeveer 50 000 mense verteenwoordig. Dit kan met redelike sekerheid aanvaar word dat 'n groot deel van daardie mense uit die Afrikaner-werkersklas kom, wat die hardste deur die Suid-Afrikaanse werkloosheid getref is. Vir hulle is die daaglikse stryd om aan die lewe te bly die hoogste onder die bevolking. Hierdie voetsoldate vorm steeds 'n belangrike deel van primêre arbeid en die land kan dié, soms weerlose mense, nie verloor nie. Vir Orania kan hierdie 'n gulde geleentheid wees om hierdie vlugtelinge te ondervang en 'n veilige heenkome, 'n hanetree van hulle huidige tuiste, in plaas van halfpad rondom die wêreld, te bied. Vir 'n werker is daar egter 'n paar dinge wat in plek moet wees voor hy bereid sal wees om op 'n nuwe plek te vestig. Die belangriskte een wat dikwels misgekyk word is 'n regstelsel waar sy belange net soveel gewig dra soos die mees welgestelde en invloedryke werkgewer. Wanneer weerlose mense ervaar dat hulle in 'n gemeenskap vasgevang is waar hulle regte ondergeskik is aan inwoners met meer invloed, sal dit noodwendig lei tot erger sosioekonomiese probleme en ander euwels en sodra die eerste geleentheid opduik, sal hulle so 'n gemeenskap binne 'n oogwink verlaat, wat natuurlik 'n groot verlies is. Hardwerkende Afrikaners word nie agter elke bos uitgeskop nie. Is daar 'n doeltreffende vakbond gevestig wat dieselfde magte het as 'n werkgewerorganisasie wat mildelik deur werkgewers vergoed kan word om hulle belange te bevorder? 'n Werknemer verstaan nie noodwendig hul regte wanneer dit by die saamstel van kontrakte kom nie.

Afrikaners is bevoorreg om 'n vakbond soos Solidariteit te hê wat na werkers se belange omsien. Hul betrokkenheid by Orania, met die nodige hulpmiddels, sal gelyke regte laat gedy. Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging het dié week aan Newsroom Africa gesê: “Afrikaners wil vry wees. Selfbeskikking vir verskillende gemeenskappe is Orania se antwoord op baie van Suid-Afrika se uitdagings. Selfbeskikking benodig erkenning, en daarom rig die Orania Beweging 'n brief aan die Withuis van die VSA.” Besoek die Orania Beweging se webblad om jou naam by die versoek te voeg. Orania staan op die vooraand van 'n reuse geleentheid. Kan ons ons werkersklas ten alle koste behou en terselfdertyd vir die wêreld wys dat ons op ons eie bene kan staan, terwyl ons 'n veilige en voorspoedige landingsplek vir elke hardwerkende, kultuurbewuste Afrikaner bied?

Voorblad van Koerania - Februarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar