← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Tong uit die hel – tong uit die hemel? – Mei 2025

Die mens se tong word in die Bybel vergelyk met 'n vuur.

Tong uit die hel – tong uit die hemel? – foto 1

Die mens se tong word in die Bybel vergelyk met 'n vuur. In Jakobus 3:8 word die vuurtong van die sondige mens beskryf as 'n onbeheerbare kwaad vol dodelike gif. Die tong is inderdaad 'n wapen. Kwaadpraat is sluipmoord. Dis om iemand dood te praat terwyl hy nie teenwoordig is nie. Die gebod van die Here bedoel beslis ook: “Jy mag jou naaste nie doodpraat nie”. Alhoewel die tong in vergelyking maar 'n klein liggaamsdeel is, beïnvloed dit ons liggaam, siel en gees. Die uitspraak van die Bybel is reguit en kras: die tong 'besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.” Die duiwel se kragtigste wapen is woorde. Hoeveel lewens is nie al verwoes met woorde nie! En tog steur ons ons dikwels maar min aan hierdie waarskuwing van God.

Tong uit die hel – tong uit die hemel? Ons tonge is van vuur uit die hel as ons kwaadpraat, en tog is ons so kleinserig as ander se seermaak woorde óns self brand. Ons wil tonge van vuur uitdeel, maar ons wil dit nie ontvang nie. Dit is egter nog nie die ergste nie, die Heilige Gees vra aan Christene wat met helse vuur tonge kwaadpraat: wat is dan die ware bron van jou lewe? So wys Jakobus op die onversoenbaarheid van Christenskap en kwaadpratery: Met die tong: “… daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is …. Geen fontein kan brak en vars water voortbring nie?” (Jak. 3:9,12). Wie het jou en my tong aangesteek? Praat ons vuur tonge goed of kwaad, is dit uit die hemel of die hel uit aangesteek? Met die uitstorting van die Heilige Gees verbind God die Gees Homself ook aan die teken van vuur tonge. So lees ons in Hand. 2:3 “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.” Die mens se tong wat uit die hel aangesteek word, word deur God vervang met 'n vuurtong waaroor sy Heilige Gees beheer uitoefen. Dan word daar nie kwaad gespreek nie, maar word goed gepraat oor die groot dade van God. Skoonbrand Uit die res van die Bybel weet ons dat die vuurtong wat die Heilige Gees bring veral op drie sake dui. Ten eerste dui vuur op reiniging. Die vuur van skoonbrand word ons deel deur die kruisoffer van ons Here Jesus Christus. Aan die kruis is Christus verguis, ook met kwaadpraat woorde van ander mense. Christus gaan egter die helse vernedering van die kwaad deur en betaal sodoende vir die sonde wat soveel kwaad in ons lewe stig. Met die vuurtong van die Heilige Gees vestig God ons aandag daarop dat God se Seun in ons plek alle kwaadpraat oorleef. Hy het betaal en het opgestaan. Die skuldbrief van ons sonde, die geskel van die satan self, die skinder en kwaadpraat van ander, is als weggeneem deur Christus se kruisdood. Deur sy Heilige Gees woon Hy in sy kinders, en dit verander hulle hele lewe – ook veral hoe ons praat. Ons het die vuurtong van die Heilige Gees se werking ontvang en dit veroorsaak dat ons tonge ook gereinig word. Skoon van vuil en kwaad praat, gereinig om te sê wat God ons wil laat uitspreek. Liefdesvuur Tweedens beteken vuur in die Skrif die warmte van omgee. Die Heilige Gees is die groot geskenk wat die Here Jesus vir ons verdien. God skenk sy eie liefde aan ons deur die inwoning van die Heilige Gees. Die beteken dat Christene se hele lewe nou 'n lewe van liefde word, in woord en daad. Wat jy sê, voor en agter iemand, getuig dat jy die vuurtong van die Heilige Gees het. Liefde word die rigsnoer en nie die kwaad vanuit die hel nie. Helder lig Derdens is vuur die teken van lig. Met vuur kan jy sien. So skep ons woorde wat deur die vuurtong van die Heilige Gees aangesteek is, ook lig vir ander mense. Nou kan ons iemand moed inpraat en nie iemand verder die hopeloosheid in praat nie. Orania se tonge Watter soort tonge van vuur het Orania se mense? Tonge van vuur wat uit die hel uit aangesteek is of tonge wat deur die Heilige Gees aangevuur word? Beskinder ons mekaar, praat ons mekaar dood met die kwaad? Kwaadpraat is 'n gruwelike sonde op Orania, wat wortel en tak uitgeroei moet word. Getuig ons woorde daarvan dat ons wel sluipmoordenaars is? Hoe praat ons van mekaar? Hoe praat ons van Orania se eie wettige owerheid? Hoe praat ons van ons meerderes? Hoe praat ons met en van ons minderes? Watter soort tong het Orania regtig? Ons kan nie God loof én ons naaste vervloek nie. Daarom mag daar ook geen rassisme op Orania bestaan nie. Ons bely amptelik dat die Here Jesus Christus ons Koning is. Ons het die vuurtong van die hemel wat die Heilige Gees as geskenk aan ons gee. Wat praat ons alles? Watter vuurtong het jy en ek, kwaad of goed?

Voorblad van Koerania - Mei 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2025, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar