
Orania Sakekamerbestuurslid en Streekontwikkelingsekonoom ORANIA – Ons dorpie maak vordering om meer toeriste te lok en ons unieke leefstyl en gemeenskap aan ander bekend te stel. Met 'n skoon, veilige omgewing en 'n sterk sin vir selfbestuur bied ons 'n vreedsame plek wat toeriste van oral in Suid-Afrika kan lok. Al is ons afgeleë, is daar 'n groeiende belangstelling in wat Orania bied, van kulturele feeste tot sportgeleenthede en plaaslike boerderyaktiwiteite. Ons vliegveld word meer gereeld gebruik, en maniere om die toeganklikheid te verbeter word ondersoek. Daar moet nou toenemend na maniere gekyk word waarop innoverende toerismegeleenthede ontwikkel en aangegryp kan word. Dit moet nie net meer besoekers lok nie, maar ook nuwe moontlikhede en groei vir ons dorp ontsluit. Die een aanduiding wat beskikbaar is, is dat die dorpstoere in 2020 'n totaal van 1 504 besoekers en gedurende 2021 'n totaal van 2847 besoekers hanteer het. Gedurende 2023 is egter 776 toere met 3 569 besoekers uitgevoer. Dié jaar was toe die grendelstaat nie meer die publiek se reismoontlikhede aan bande gelê het nie. Daar is uitdagings, soos hoe om negatiewe persepsies te oorkom en aanloklike infrastruktuur te ontwikkel, maar ons het 'n visie om Orania as 'n veilige, unieke bestemming vir almal te laat groei. Hoewel daar nog nie 'n amptelike Toerismeburo bestaan nie, broei daar idees onder plaaslike entrepreneurs, kulturele aktiviste en ander dromers met 'n passie vir die dorp. Voorstelle word reeds ontvang om die toerismesektor vir 'n breë groepering van potensiële besoekers te ontwikkel. Hoewel Orania se sterk beginsel van selfwerksaamheid ononderhandelbaar is, is dit duidelik dat daar slim planne beraam moet word om die toerismesektor 'n hupstoot kan gee. Gespesialiseerde bemarking, samewerking met Afrikaanse toerismekanale, en selfs beleggings van vriende buite Orania kan alles bydra om groter sigbaarheid te verseker. Toerisme vorm deel van Orania se ekonomiese enjin en is beslis 'n sektor met groeipotensiaal. Volhoubare ontwikkeling van dié sektor sal strategiese denke verg. Bestaande geleenthede wat reeds besoekers na die dorp lok is: Orania Karnaval, Orania Gaan Groot, Geloftefees, Bokkieweek, Bo-Karoo Vasbyt, Pekanneutkonferensie en die Orania Beweging se ledenaweek. Dit is 'n feit dat Orania verskeie geleenthede bied om sy toerismesektor uit te brei. Dit is belangrik dat hierdie geleenthede verantwoordelik benut word. Die vyf strategieë wat vir Orania voorgestel word, is: 1. Bemark Orania as 'n veilige oornagbestemming vir diegene wat tussen Gauteng en die Wes-Kaap reis. 2.Stel die vliegveld beskikbaar en bemark die vliegveld vir gebruik. 3.Skep reispakette sodat mense wat meer wil leer oor Orania, die dorp kan besoek. 4.Skep meer aktiwiteite en brei bestaandes uit sodat besoekers meer goed het om te doen in Orania. Meer aktiwiteite maak dit ook vir besoekers die moeite werd om die afstand af te lê. 5.Kry 'n groot fees of byeenkoms vir elk van die maande Mei – Augustus om deur die stiller tye mense na Orania te lok Om die holistiese strategie van die toerismesektor te belyn sal 'n toerismevereniging van waarde wees.




