← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Ria wankel nie in haar geloof nie

Vanaf 3 September 2024 tot 11 Januarie 2026 het Ria Welgemoed se lewe ‘n drastiese draai gemaak waaroor sy nie uitgepraat kan raak nie.

Ria en Chris Welgemoed getuig graag oor God se goedheid.
Ria en Chris Welgemoed getuig graag oor God se goedheid.

Vanaf 3 September 2024 tot 11 Januarie 2026 het Ria Welgemoed se lewe ‘n drastiese draai gemaak waaroor sy nie uitgepraat kan raak nie. Sy deel haar verhaal met Koerania. 3 September 2024 was 'n doodgewone dag, soos enige ander. Na ‘n heerlike kuier by vriende het sy tuis op die bed gaan sit en naar, seer, koud en aaklig gevoel. Al dié simptome het die volgende paar dae net erger geword. Sy beskryf haar rits simptome waar haar maag begin opswel het, asof sy swanger was, sy het konstante pyn oor die hele buikarea beleef, konstante naarheid, kouekoors, vertigo, moegheid, lighoofdigheid en bloeding. Tydens ‘n doktersbesoek was die dokter te bang om haar te ondersoek omdat hy “bang was my maag gaan bars”. Die diagnoses na 6 dokters wat sy by aangeklop het en 3 hospitale waar sy opgeneem was het die uitslae gestrek van H pylori na Ibs, Infeksie orals, gastritis, melenose en uiteindelik akute dervitikulietes. Dit beteken dat die dikderm van begin tot einde aan die buitekant vol blasies is. Sy is aangeraai om net sekere kosse te eet en vloeistowwe te drink. Sy moes meeste van die tyd lê en mag niks swaar opgetel of gestaan het nie. Die drukking wat dit kon veroorsaak sou die blasies laat bars en kon haar dood veroorsaak. Ria mag nie in ‘n motor gery het nie, want die geskud kon fataal wees. Kouekoors en lae bloeddruk was haar konstante metgeselle.

Sy moes ‘n hele paar keer ‘n drup ontvang om stabiliteit in ystervlakke te bereik. Dr Simmons, ‘n Dermatoloog by Universitas hospitaal in Bloemfontein kon slegs basiese raad vir haar toestand verskaf. “Hou die pyn en naarheid sover moontlik onder beheer en lewe met die konstante pyn terwyl jy heeldag lê en niks doen nie!” Die alternatief was om die hele dikderm uit en sny en vir die res van haar lewe ‘n stomasakkie te dra. Vir 16 maande en 8 dae was daar gebid, gehuil, gelag, gesalf, gebid en gevas en deur Ria en haar man en almal wat in hul vriendekring is, pastore, kliënte, kinders, oumense, koeriers nog baie meer gebid. “Letterlik almal wat van my toestand gehoor het, het gebid,” sê sy. Daar was ‘n hele paar keer wat Ria gevoel het of sy doodgaan. Alhoewel dit normaal is om so af en toe te huil en te gaan lê, was dit vir haar belangrik om weer op te staan en te probeer. Dit was ‘n uitdaging wanneer soveel mense haar geloof wou toets deur te vra waarom sy nie genees word as almal dan bid nie. “Al wat ek kon sê is dat ek glo die Here het 'n doel met alles, en Hy sal my genees op Sy kosbare tyd.” In ‘n verdere geloofsaksie het Ria in Januarie 2026 saam met kerkvriende begin vas en het sy vir 4 dae slegs water gedrink. Wanneer haar bloeddruk dramaties laag geraak het moes sy noodgedwonge soutigheid inneem.

“Ek wou nie graag aan my laat sny nie, en ek het gebid en gevra dat die Vader my moes wys of ek moes laat sny. Ek het 1 nee en 2 ja antwoorde gekry.” Op 10 Januarie het Ria gebid vir ‘n duidelike antwoord, want op 19 en 22 Januarie moes sy die dokters weer vir ‘n finale besluit besoek. Soos gewoonlik het Ria die Bybel nader getrek en lees toe in Johannes 11 waar die Here praat van sy liefde vir Lasarus, en Hy vertel dat Sy werke in Lasarus se lewe gesien kon word, al was hy so siek en moes hy sterf. Dit het haar diep getref! Op Sondag 11 Januarie het sy en Chris opgestaan en hy het gevra hoe sy voel. Sy het goed gevoel, maar besef dat dit nog te vroeg was om werklik ‘n diagnose te maak. Hulle is kerk toe, het koor geoefen en ‘n besoekende pastoor het gedurende die diens gevra dat die Heilige Gees almal moet aanraak. “Ek rustig gesit en besef dat ek geen pyn het nie.” Haar man het ‘n paar keer gevra en sy kon sê dat sy geen meer pyn en swelling ervaar het nie. Ria het God gedank vir genesing. Ria moes haarself die hele dag oortuig dat sy nie droom nie. “Ek het hier en daar 'n ligte pyn gevoel, maar geweier om op te hou glo dat God my genees het.” Ria het by die een dokter in Hopetown gaan getuig voordat sy haar ondersoek het en verstom moes erken dat sy gesond was. Sy drink nie meer haar voorgeskrewe pille nie en weet dat die Here haar ten volle genees het. “Ek wil nou net getuig van ons God se grootheid en liefde!”

Foto’s: Verskaf Een van die geleenthede waar Ria ‘n drup as aanvulling moes kry was op 10 Oktober 2024.
Foto’s: Verskaf Een van die geleenthede waar Ria ‘n drup as aanvulling moes kry was op 10 Oktober 2024.
Voorblad van Koerania - Junie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar