
Op 6 Mei het Peet en Vanessa Grundling vanaf OR Tambo lughawe na Suid-Georgia vertrek om hul dogter, Kaylin, en skoonseun Lourens, na byna twee jaar weer te sien. Dit eerste skof van 16 ure na Atlanta, 'n wagpriode van 4 ure en daarna verder tot in Jacksonville, Florida, was lank, maar die moeite werd. Die uiters emosionele weersiens het die trane laat vloei, maar hulle het hope lekkerkry tydens die ongeveer 3 kuierweke ingeprop. Lourens Erasmus het 'n H-2A visum waarmee hy as 'n boer in die Jeff Davis County, Suid-Georgia werk. “Die kind werk baie hard en baie lang ure, maar dit is vir hom die opoffering werd,” vertel skoonpa Peet. Dié plaasgemeenskap is klein, maar lewer kwaliteit produkte. Die H-2A visumprogram stel Amerikaanse landbouwerkgewers in staat om buitelandse werkers na die Verenigde State te bring vir tydelike of seisoenale landbouwerk wanneer daar 'n tekort aan plaaslike arbeid is. Die Gründlings vertel dat hulle die VSA as 'n wonderlike land beleef het waar alles werk en jy nie sukkel met enige tegnologie nie. “Dit is hoe 'n eerstewêreldland moet lyk!” Hulle kon waarneem hoe robotte en tegnologie werk uit mense se hande neem, aangesien die selfhelpopsies oral aangewend word. “Wallmart is selfhelp, brandstof is selfhelp. Robotte neem voorraad in Wallmart,” vertel hulle ewe beindruk. Vir Peet was dit indrukwekkend om die besigste lughawe in die wêreld te beleef. Aangesien hy 'n lid is van die Orania Veiligheidsdienste was die sekuriteitssisteme vir hom 'n ervaring. “Gesigsherkenning gedoen alles, die sekuriteit is streng, jy ry met 'n trein van een na 'n ander deel van die lughawe toe. Tot my lip ice is ondersoek,” lag hy.
Vir Vanessa was dit natuurlik 'n hoogtepunt om haar dogter weer te sien. “Om haar gesigsuitdrukking dop te hou toe ons in die ontvangsarea instap was so spesiaal. Ons het Lourens se dogtertjie saamgeneem en daardie weersiens was pragtig,” noem Vanessa aangedaan. Albei vertel van ander opwindende ervarings wat hulle tydens hul kuier geniet het. Die St. Simons Island by Brunswick, Georgia, is 'n ryksmansbuurt waar die verskeidenheid winkels hulle kop laat draai het. Jekyll Island se natuurskoon en die netheid van die dorp was vir hulle 'n belewenis. Hulle beskryf die mense as patrioties, aangesien die trots vir hul vlag duidelik sigbaar is, want voor byna elke huis of winkel hang die vlag. “Jy kan hul vlag op elke moontlike toerisme aandenking kry.” Die 75km per uur wat Peet moes bestuur was 'n aanpassing aangesien dit aanloklik lyk om op hulle goeie paaie te jaag. Die Dollartree shop, waar jy 1 dollar en 25 sent vir elke produk betaal was vir Vanessa 'n aantrekking. “Ek kon 'n hele klomp goed koop wat jy in SA baie duurder voor sal betaal. Ek kon nie alles saambring op die vliegtuig nie,” noem sy. “Ons liefde vir ons kinders kan nie deur afstand uitgewis word nie, maar ons beveel vir mense aan om, indien die geleentheid hom voordoen, die land vooraf te besoek en ondersoek in te stel voordat jy jou taal en kultuur opgee. Die ervaring wat ons kinders opdoen is van onskatbare waarde, maar jy bly maar altyd vir hulle 'n uitlander,” stel die trotse ma en pa.
Die H-2A visum
Die H-2A visum is ontwerp om landbouwerkgewers te help om arbeidstekorte aan te vul deur hulle toe te laat om nie-immigrante buitelandse werkers vir tydelike of seisoenale landbouwerk aan te stel. Hierdie program is veral voordelig tydens piekseisoene wanneer die vraag na arbeid die beskikbare plaaslike arbeidsmag oorskry.





