
Aftreeseminaar in Mosselbaai later vanjaar... Fanus Truter is die voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer. Hul beplan vanjaar 'n Aftreeseminaar wat die uiters noodsaaklike sorg en 'n rits behoeftes vir bejaardes sal aanspreek. Koerania het met hom gaan kennis maak om meer uit te vind oor dié beplande seminaar wat later vanjaar aangebied sal word. Daar word 'n magdom temas en instansies aan die seminaar gekoppel wat waardevolle besonderhede met bejaardes kan deel. Afgetredenes se volledige behoeftes word in ag geneem met die saamstel van die program. Kundige sprekers en uitstallers sal deel uitmaak van die geleentheid. “Die Wes-Kaap is 'n gewilde aftreebestemming, en ons moet ons bejaardes bemagtig sodat hul aftrede gemaklik kan verloop,” vertel Fanus.
Die wens is uitgespreek dat Bo-Karoo Opleidingsentrum se lektore en tuisversorgingstudente hierby betrokke kan wees, maar moontlik tydens dié seminaar ook waarde kan toevoeg. Hou Koerania dop vir die volledige inligting vir die aftreeseminaar in Mosselbaai sodra dit beskikbaar is.
Contessa Kruger van Victoria-Wes, Abri Ferreira – voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Johan Allers, Burgemeester van Oudtshoorn en Dia van Staden, redakteur van Koerania het goeie gesprekke oor planne wat Oudtshoorn het om die toeloop van potensiële inwoners te akkommodeer. Orania is deur die seremoniemeester vir die aand, lekker.nikki van Tiktokfaam, hartlik by die netwerkgeleentheid van die besigheidskamer verwelkom. Dié besigheidskamer is in 2024 as die beste sakekamer van die Wes-Kaap aangewys. Abri het uitgebrei oor Oudtshoorn wat steeds 'n dorp is waar inwoners goeie verhoudinge handhaaf. Johan werk hard om die munisipale amptenare tot verantwoordelikheid te roep sodat die gemeenskap op hul kan staatmaak. Toerisme is een van Oudtshoorn se belangrikste inkomstestrome en daar word tans beplan om fokus te plaas om geriewe waar toeriste kan ontspan. Selfs die volstruise moet opsy staan vir toerisme. Dit was vir besoekers by die netwerkgeleentheid soos Contessa en Dia duidelik waarom hulle met die louere weggestap het. Hul respek vir mekaar en die manier waarop daar genetwerk word en hoe sakemanne en vroue met mekaar bemoeienis maak, was merkwaardig.
Die Orania Sakekamerverteenwoordiger vir bemarking en toerisme, Dia van Staden, het by dr Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (Ahi) in die Wes-Kaap, 'n draai gemaak om kers op te steek oor sakekamerkwessies. Aangesien dr Cilliers vroeg in Augustus as spreker by die Orania Sakekamer se netwerkgeleentheid saam met professor Jannie Rossouw gaan optree, was dit 'n gulde geleentheid om gedagtes uit te ruil en bande te smee. Hul het in George by sy rekeningkundige praktyk ontmoet. Daar is onder andere gesels oor George wat 'n toevlugsoord vir baie afgetredenes van oraloor geword het. Sy betrokkenheid by verskeie besigheidsektore beklemtoon die feit dat hy uiters ingelig is oor tendense in die breë besigheidsfeer. Hy het klem daarap gelê dat die skryf van 'n volledige grondwet vir 'n sakekamer van kardinale belang is. Die Orania Sakekamer sien daarna uit om hom te ontvang en van hom te leer. (Hy noem dat daar opnuut na infrastruktuur gekyk word om seker te maak dat dienste voldoende gelewer kan word vir die toename in die getal inwoners.)








