
Drie nuwe landboukwalifikasies vir 2027 bring meer studiegeleenthede na die hartjie van die Bo-Karoo, Orania.
Vir jongmense wat ’n toekoms in landbou wil bou, bied Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania vanaf 2027 drie nuwe studiekeuses. Die instelling brei sy landbou-aanbod uit met Nasionale Diplomas in Plantkunde en Dierkunde, wat in samewerking met Peritum Agri Institute aangebied word, asook ’n Hoër Beroepsertifikaat: Gemengde Gewasse- en Veeboer. Die programme bied verskillende roetes volgens studente se belangstelling. Plantkunde fokus op gewasverbouing, terwyl Dierkunde op veeproduksie gerig is. Die Hoër Beroepsertifikaat berei studente voor om gewasen veeproduksie binne ’n geïntegreerde boerderystelsel te benader. Hierdie studierigtings help jongmense om kennis en vaardighede te ontwikkel vir ’n loopbaan in landbou en die bestuur van boerderybedrywighede. Praktiese opleiding staan sentraal in BKO se benadering. Op die instelling se Leer-My-Hoeproefplaas van 22 hektaar kry studente die geleentheid om teoretiese kennis in die praktyk toe te pas. Die beplande gebruik van die Bosrand-werkswinkelgeriewe sal verdere ruimte bied vir vaardigheidsontwikkeling rondom landboumeganisasie, toerusting en instandhouding. Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, is die doel om jongmense vir die werklikhede en geleenthede van landbou toe te rus. “Landbou bly een van die belangrikste boustene van ’n volhoubare en voorspoedige gemeenskap. Ons wil ’n nuwe geslag landbouleiers toerus met die kennis, praktiese vaardighede en entrepreneuriese denke om met kundigheid te boer en ’n betekenisvolle bydrae te lewer.” BKO het in 2019 met slegs vyf studente begin en het sedertdien sy beroepsopleidingsaanbod uitgebrei. Die nuwe landboukwalifikasies vorm deel van dié groei en die instelling se strewe om opleiding aan die behoeftes van die werkplek te verbind. BKO bied opleiding in verskeie beroepsrigtings, waaronder Elektries, Loodgieter, Bou- en Siviele Konstruksie, Tuisversorging en Voorskoolse Onderwys. Studente se opleidingservaring strek verder as die proefplaas en klaskamer. BKO bied ’n plattelandse studentelewe waarin sport, kultuur en gemeenskapsbetrokkenheid deel van hul ontwikkeling vorm. Studente van regoor Suid-Afrika en buurlande kom hier saam om te leer, te werk en aan hul toekoms te bou. Verblyf is beskikbaar in verskeie koshuise, elk met sy eie identiteit en tradisies. Twee daghuise bied aan studente wat privaat woon die geleentheid om by studente-aktiwiteite in te skakel. Voornemende studente kan ook navraag doen oor beskikbare finansieringsmoontlikhede en die toepaslike vereistes. Vogel beklemtoon dat beroepsopleiding en persoonlike vorming hand aan hand gaan. “Ons wil jongmense toerus wat hul werk met kundigheid en integriteit aanpak. Vanuit ons Christelike geloofsgrondslag moedig ons studente aan om hard te werk, verantwoordelikheid te aanvaar en diensbaar in hul gemeenskappe te wees.” Aansoeke vir die 2027-akademiese jaar is oop. Voornemende studente en hul ouers kan www.bko.co.za besoek vir meer inligting oor die kwalifikasies en toelatingsvereistes. Kontak die bemarkingskantoor by 053 110 0620 of bemarking@bko.co.za om die studiekeuses en aansoekproses te bespreek.




