
Abri Ferreira, President van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het Orania onlangs besoek en die feite rondom die hantering van B-BBEE vir kleinsake aangespreek. Dit was vir hom ‘n blitsbesoek, maar hy het Orania en sy mense aangenaam gevind en is besonder beindruk met die ontwikkeling van die infrastruktuur. Hy verduidelik aan Koerania dat die rol van die sakekamer binne ‘n groeiende gemeenskap soos Orania steeds is om aktiwiteit te stimuleer sodat geld van buite die dorp na Orania sal vloei. “Dit is wat ons vir Oudsthoorn ook probeer doen.” Wat B-BBEE aanbetref het hy klem gelê op die feit dat dit nie ‘n onderneming behoort te kortwiek om ekonomies steeds sin te maak nie. Abri sê: “Opsie-aandele wat billik aangebied word binne markwaarde van jou besigheid, na aanleiding van jou omset, kan ‘n voornemende aandeelhouer die finansies daarvoor aanbied. Voordat daardie transaksie nie volvoer is nie, kan ‘n aandeelhouer of vennoot geen aanspraak daarop maak om op ‘n direksie of raad te sit en antwoorde te bied nie. Dit is slegs vir besighede van toepassing wat minder as R50 000 000 omset per jaar het. Hy merk op dat daar oulike winkels is, maar dat daar moontlik vir die toekoms meer verskeidenheid winkels benodig word om die koopervaring vir besoekers en inwoners te verhoog. Hy neem daarmee in ag dat die inwonertal moet groei om dit volhoubaar te laat geskied. Volgens hom is die werk wat die Orania Ontwikkelingsmaatskappy doen is ongelooflik en die moontlikheid is daar dat Orania in ‘n opleidingsmekka omskep kan word. “Die geboue is baie netjies en dit is merkwaardig hoe daar uitgebrei word. Alles is netjies en alles werk. Krag, water, filtersisteme, batterye – dit is duidelik dat samehorigheid effektief kan werk en dat ‘n dorp nie altyd ‘n regering of munisipaliteit nodig het om te ontwikkel nie. Jy kan dit self doen!” sê Abri.




