← Sake

· Deur Koerania-redaksie

Orania-ekonomie moet van buite na binne groei

Die Orania Sakekamer het op Vrydag 7 September hul netwerksessie by die Wafelhuis aangebied.

Orania-ekonomie moet van buite na binne groei – foto 1

Die Orania Sakekamer het op Vrydag 7 September hul netwerksessie by die Wafelhuis aangebied. Tydens dié geleentheid het Conrad Basson, eienaar van Eden & Co, die gaste toegespreek en sakelui met hul suksesverhaal en praktiese wenke geïnspireer. Conrad het beklemtoon dat die kern van sukses lê in die vermoë om groot te droom. Sy boodskap was duidelik: “As jy dit nie kan droom nie, kan jy dit nie doen nie.” Hy het aan die gehoor gesê dat diegene wat 'n sakeonderneming wil begin, slegs twee keuses het: “Jy maak 'n plan of jy gooi die handdoek in.” Volgens Basson is dit noodsaaklik dat die Orania-ekonomie groei deur geld van buite in te bring. Hy het gesê as plaaslike ondernemings nie begin dink aan maniere om hul produkte en dienste buite die dorp te bemark nie, sal hul groeipotensiaal beperk bly. Hy glo die ekonomiese lewensvatbaarheid van die dorp sal bepaal of Orania vir potensiële en voornemende inwoners aantreklik sal wees. Conrad het die gehoor ook uitgedaag om selfrefleksie toe te pas. Hy het genoem dat inwoners en besigheidseienaars mekaar dikwels verskoon vir swak diens of substandaard produkte. Hy het gewaarsku dat die mededinging buite Orania genadeloos is en dat enigiets minder as professionele, wêreldklas diens nie daar geduld word nie. “Ons kan nie mekaar aanhou verskoon vir swak diens of produkte nie, want as ons nie kla nie, is ons deel van die probleem,” het hy gesê.

Conrad het die noodsaaklikheid van professionele diens, spoedige reaksie op eposse en die vinnige voltooiing van kwotasies beklemtoon. Hy het bygevoeg dat om jouself as 'wêreldklas' te handhaaf, jy elke dag hard moet werk. Hy het entrepreneurs aangemoedig om nie bang te wees om te begin en klein tree te gee nie.” Hy en sy vrou, Nikke, woon al agt jaar in Orania. Hulle het hul onderneming, Eden & Co, sonder enige personeel begin. Hulle het aanvanklik op die basiese beginsels gefokus: vinnige reaksie op navrae en die regdoen van die klein dingetjies. As juweliers beskou hulle ook detail as uiters belangrik. “Ons maak seker dat dit vir 'n kliënt lekker is om ons produk te ontvang en ons gee aandag aan gehalteverpakking. Ons bedien kliënte in hul eie taal,” het hy gesê. Die spreker het ook die belangrikheid van bemarking benadruk, veral e-posbemarking. Hy het gesê dat die bou van 'n kliëntedatabasis via 'n webwerf 'n sleutelfaktor vir enige besigheid is. Conrad het die gehoor bemoedig deur te noem dat aanlynbesighede vandag uiters gewild is, wat die sake-omgewing in Orania bevoordeel. Hy het wel die waarskuwing gerig dat sodra jy buite die dorp begin sake doen, jy met die res van die land sal meeding. Hy het lede uitgenooi om met hom in verbinding te tree om besigheidsidees of uitdagings te bespreek. Die volgende netwerkgeleentheid sal op 8 Oktober plaasvind. Hou die Orania Sakekamer se platforms dop vir meer inligting.

Orania-ekonomie moet van buite na binne groei – foto 2
Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Wes-Kaap kenner kom kuier
Sake/

Wes-Kaap kenner kom kuier

Abri Ferreira, President van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het Orania onlangs besoek en die feite rondom die hantering van B-BBEE vir kleinsake aangespreek.

Deur KoeraniaLees berig