
Dit is vanjaar 35 jaar gelede dat enkele pioniers die groot taak op hulle skouers geneem het om aan vryheid vir Afrikaners te bou.Dit was mense wat oortuig was van die vryheidsideaal. Vir daardie eerste mense was daar geen enkele pos om voor aansoek te doen nie. Hulle moes planne maak om ekonomies te oorleef. Maar tog het hulle met warm harte gekom, want hulle was geroep vir ‘n groot taak. Daar aan die begin was ons maar bittermin. Ek en John het geskat dat ons so 200 mense was. Oom Danie van Rensburg het as verteenwoordiger van Orania met joernaliste gesels. Hy het gemaklik vertel dat ons 600 inwoners is. Ek en John kon dit nie verstaan nie, en toe vra ons hom daarna. Sy antwoord was dat dit nie goed lyk as ons so min is nie, daarom tel hy sommer familie en ondersteuners ook by! So tel ons maar nog steeds ons mense, en ons is steeds bittermin. In die beginjare het ons die Kontreiwinkel besit. Ons was dikwels tot laat saans in die winkel; Orania het toe nog ‘n handsentrale gehad. As daar saans oproepe was wat die sentrale nie geweet het na wie toe om dit deur te skakel nie, dan is die oproepe na ons toe deurgeskakel. So het daar een aand ‘n man uit die buiteland gebel net om vir ons te sê hy dink ons moet ‘n tolhek by Orania oprig en dan kan ons al die tolgeld gebruik om Orania te ontwikkel. Op ‘n ander keer het Derek Watts en Susan Puren van Carte Blanche Orania toe gekom om ‘n program te doen oor volhoubaarheid. Op daardie stadium het Orania baie “groen” gedink, en ons het talle projekte gehad soos vulliskeiding en permakultuur. Baie van ons het met sonstofies gekook. John sou Derek Watts in Orania rondneem en hy vra toe dat ek dié oggend ‘n vrugtekoek in die sonoond bak sodat daar darem iets is om te wys. So het ek die oggend vroeg opgestaan om die mengsel aan te maak, want dit bak lank in die sonoond. Teen agt uur was die koek in die oond, en die verwagting was dat dit teen 11:00 gereed sou wees. Ongelukkig skuif daar toe wolke voor die son in en die koek wil nie gaar word nie. Toe John en Derek van die toer af terugkom, was die koek nog rou, maar Derek moes ‘n vliegtuig in Kimberley haal en kon nie later as halftwee vertrek nie. Derek dring toe daarop aan om aan die rou koek te proe! Hy het ‘n teelepeltjie vol geproe en toe die koek nadergetrek en meer as die helfte van die rou koek opgeëet! Die volgende dag het ons ‘n e-pos van Susan Puren ontvang waarin sy die resep vir Derek gevra het! Op ‘n ander keer het ‘n voormalige minister uit die kabinet van Ian Smith van Rhodesië of Zimbabwe by ons in die winkel aangekom. Hy het baie belanggestel in ons strewe en vertel van die stryd en die oorlog in Zimbabwe. Sy groetwoorde sal ek altyd onthou: “ Being divided is a luxury you can not afford.” Dit was die woorde van ‘n man wat toe net ‘n paar jaar gelede sy land verloor het, en sy boodskap aan die Afrikaners is: “Being divided is a luxury you can not afford!” Een Saterdagoggend, so kort voor sluitingstyd, het die burgemeester van Luckhoff by die winkel ingestap. Orania was toe nog vaal en bitterklein. Hy was duidelik nie baie vas op sy voete nie, maar hy het so ‘n bietjie in die winkel rondgekyk, op die stoep gaan staan en uitgekyk. En toe sê hy: Die boere het al weer die beste plek gekry! Dit het my laat dink aan die boek Ester. Hulle was ook ‘n baie klein minderheid. Die bose Haman beplan om hulle almal uit te delg. Maar God voorsien so wonderlik. Hy gebruik gebroke mense, Ester en Mordegai, as instrumente om Sy volk te red. Mordegai vra dat Ester na die koning moet gaan om vir begenadiging te vra. Ester stuur ‘n boodskap dat sy doodgemaak kan word as sy na die koning gaan sonder dat hy haar geroep het. Mordegai se antwoord was, dat Ester haar nie moet verbeel dat as al die Jode uitgemoor word, sy vrygestel sal word nie. En dan voeg hy by dat sy moontlik gebore is vir ‘n tyd soos hierdie. In wêreldse terme is ons nog steeds min, ons het in Orania nog steeds ietsie oorgehou van ons volhoubaarheidstrewe, ons kan nog steeds nie bekostig om verdeeld te wees nie, want ons is net te min. Maar tog het die boere die beste plek gekry, soos die burgemeester van Luckhoff gesê het, want die Here het vir ons mildelik voorsien. As ek terugkyk op ons geskiedenis en hoe donker dinge soms gelyk het en hoe daar dan tog, na baie gebed ‘n oplossing gekom het, is die hand van ons hemelse Vader baie duidelik. Die Vader van hemel en aarde het dit gewil dat Orania tot stand kom, Hy het ons al deur moeilike tye gelei, Hy het al deure oopgemaak. Maar Hy werk met ons en ons is al vir 35 jaar bewaar sodat ons Sy wil kan doen. Hy het ‘n plan met ons. Orania het ‘n roeping in die wêreld om ‘n lig vir die nasies te wees. ’n Stad op ‘n berg. Soos Mordegai moet ons sê: Ons is geroep vir ‘n tyd soos hierdie. Laat ons die dinge wat agter ons is, agterlaat. Dit maak nie saak dat ons min is nie. Dit maak nie saak dat ons klein is nie. Dit maak nie saak dat die wêreld ons wil verdelg nie. Dit maak nie saak dat hulle vir ons lag nie. Dit maak saak dat ons ons hier is, dat ons gehoorsaam bly aan ons roeping, dat ons in alles wat ons doen na Sy wil sal vra en tot Sy eer sal doen. Dat ons soms die ongewilde keuses sal maak omdat dit die regte ding is om te doen. Ons kan vanjaar Orania se 35ste verjaardag met groot dankbaarheid vier. Ons hemelse Vader gee vir ons hierdie wonderlike geleentheid om mee te werk aan iets wat groter is as wat ons is, al verstaan ons dikwels nie alles wat gebeur nie. Die Here het ons geroep vir ‘n tyd soos hierdie. Die Here het waarlik vir die Boere die beste plek gegee! Geseënde verjaardag aan Orania!







