← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Ons belofteryke toekoms – Junie 2025

“Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is … was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom.

Ons belofteryke toekoms – foto 1

“Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is … was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” 2 Korintiërs 1:19-20. Wat is jou siening oor die toekoms, jou eie een en die toekoms van Orania? Wanneer God Homself aan iets of iemand verbind, dan gee Hy jou sy Woord. God se Woord is regtig ook sy eer. God gee aan sy kinders ook beloftes oor wat Hy in die toekoms onderneem Hy sal doen. Voor die koms van Christus was God se een groot belofte saamgetrek in die belofte dat Hy die Verlosser sal stuur (Gen 3:15). Die Verlosser, het God belowe, sal dan ook die groot geskenk van die Heilige Gees gee aan sy kinders (Joël 2:28). God se beloftes is ryk en betroubaar. Wat God belowe, doen Hy. God se Woord – die beloftes wat aan ons gemaak is – is die vaste fondament waarop ons ons toekomsverwagting bou, ook hier in Orania. Verbind God verbind Homself deur sy verbondsbeloftes aan mense, selfs tot in die nageslagte. In Handelinge 2:39 staan: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep”. Op God se beloftes kan jy reken. God bind self sy eie betroubaarheid aan wat Hy sê oor die toekoms, ook ons eie toekoms. Laat ons weer diep nadink oor ons toekoms: wat bepaal ons toekoms in sy kern? Is dit wat ons self dink of doen, of vrees of slegs dit waarvoor ons kans sien? Glo ons regtig ons toekoms is in God se hand, gerig deur sy beloftes? Vind ons God se beloftes geloofwaardig in ons huidige omstandighede? Die toekoms vir 'n Christen word ten diepste bepaal deur Wie God is en wat Hý belowe. God maak hierdie beloftes deur sy Woord en Heilige Gees bekend. God se beloftes sal alleen in jou en my lewe werklikheid word, op grond van ware geloof in die Here Jesus Christus. Dit is wat die apostel Paulus verkondig aan die gemeente in Korinte, en ook aan ons. Al God se beloftes hou stand in Jesus Christus alleen. Om die beloftes van God te ken is baie belangrik. Mens moet wéét wat jy glo en verwag. Om egter die beloftes te ken, hoe baie daar ookal is, is nie genoeg nie. Ons moet ook glo, ons moet vertrou dat God sy Woord gestand kan en wil doen. Dit gebeur alleen wanneer ons vertroue gerig is op Jesus Christus. Die Here Jesus was met sy lewe en sterwe op aarde getrou aan sy Vader tot in die hel en die doderyk. Op grond van God se beloftes oor sy koms en die geskenk van die Heilige Gees het Christus dwarsdeur die dood gegaan. Selfs die dood kon God nie keer om sy Woord gestand te doen nie. Ons toekoms en toekomsverwagting is gerig op die feit dat God dié groot doodloop straat, - die dood – oorwin het. God gee wat Hy belowe as daar egte vertroue is op Hom. Hierdie geloof wat die Heilige Gees in ons wek en werk is self ook 'n geskenk van God af (Efes. 2:8). God rig ons vertroue op sy betroubaarheid, deurdat Hy vir ons beloftes gee oor die toekoms. Twyfel en ongeloof bring slegs onsekerheid en wanhoop. So leer die Bybel ook: “… want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie …” Jak. 1:6-7. Wat beteken dit vir ons in ons persoonlike lewens en ook as 'n gemeenskap in Orania? Ons wat hier die groot geloofsdroom koester dat ons as volk ook 'n eie plek mag hê, 'n Christelike republiek waar ons die Here mag aanbid, eer en verheerlik. 'n Plek waar ons vry is om God te aanbid op alle lewensterreine. Wat beteken God se beloftes vir ons toekoms? Gaan ons dit ontvang in geloof of verbeur in twyfel? Toekoms in God se hand Wat sien ons en wat ervaar ons? Wat is die harde werklikheid? Ons beleef ekonomiese swaar tye, ons sien en hoor hoe ander sing en sê dat ons geen plek voor hulle oë mag hê nie. Wie glo ons nou – nou as ons juis beproef word of die beloftes van die Here vir ons enigsins iets werd is? Ons moet ons geloofsvertroue rig op wat God sê en nie wat onsself in ons vrees of twyfels sê nie. Ons toekoms word nie bepaal deur ons vyande nie. Ons toekoms is in God se hand en as ons met geloof in God se betroubare beloftes ons lewens inrig, ook ons hele gemeenskap se lewe, dan vlam daar hoop in ons hart op. Nog nooit het God nie gedoen wat Hy sê nie. Christus het gekom, Hy is gekruisig en het opgestaan. Kyk, Hy lewe in ons. Sy Heilige Gees is met ons. Die toekoms behoort aan God, en Hý belowe ons uitkoms in die toekoms. Orania verklaar openlik en amptelik dat ons onder die koningskap van die Here Jesus Christus staan. Ons wil deur God se Gees regeer word. Dit bring groot troos, maar ook groot verantwoordelikheid. Nou – ook in moeilike, selfs krisistye, kan ons vasstaan en weet: God doen wat Hy belowe. Laat ons verwagting vir die toekoms gerig wees op die rykdom van God se beloftes. Al God se beloftes is ja en amen in die Here Jesus Christus. Mag ons groeiende stad, mag ons wordende republiek hiérdie kenmerk dra, dat vriend en vyand mag sê: Orania lewe uit die beloftes van God.

Voorblad van Koerania - Junie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2025, bladsy 6

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar