← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Ons begin nuut op die bekende pad – September 2025

Mens kan net “nuut” sê, as jy werklik weet wat “oud” is.

Ons begin nuut - op die bekende pad – foto 1

Mens kan net “nuut” sê, as jy werklik weet wat “oud” is. Orania doen tans baie nuwe dinge. Die volgende nuwe fase in ons geskiedenis breek aan. Wat beteken dit as mens sê: 'Ons pak iets nuuts aan?” Baie mense kan van 'nuut' praat, maar hoe weet mens of jy werklik iets nuuts doen? Sê nou maar net ons herhaal ou dinge weer oor en oor? Is nuwe dinge noodwendig goed? Hoe moet 'n Christen weet wat is die goeie betekenis van “nuut”? Vir 'n volk is dit lewens belangrik om die ware Bybelse betekenis van “nuut” reg te begryp. Om dit te verstaan moet ons weer hoor wat God sê oor “nuut begin”. Heel aan die begin van die Markus evangelie staan: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die

Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak – die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” Hierdie stem van die een wat roep is Johannes die Doper. Hy het die koms van die Here Jesus aangekondig met sy kort en kragtige oproep: 'Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom' (Mat.3:2). Baie mense dink dat daar 'n breuk is tussen die laaste boek van die Bybel, Maleagi en die eerste boek van die Nuwe Testament, Matteus. Alhoewel daar meer as 400 jaar verloop tussenin, sê die Bybel duidelik dat die Ou Testament eers afloop met die koms van Johannes die Doper, en die Nuwe Testament breek aan met die koms van Jesus Christus (Mal.

4:5, Mat. 11:13-14). Johannes die Doper is die laaste Ou Testamentiese profeet, hy wys letterlik met sy vinger na die beloofde Een wat sou kom, Jesus Christus, die Seun van God. Die evangelie begin met die koms van Jesus Christus, maar sy koms is reeds vroeër, in die ou tyd, deur die profete verkondig. Nuwe Orania Wat beteken dit vir ons wat op Orania iets nuuts aanpak? · Die belangrikste is om te onthou dat die Here Jesus self gesê het: 'Ek is die bein en die einde' (Open. 22:13). Met ander woorde, om iets nuuts te begin, wat dit ookal is en wat jy jou ookal voorneem, as dit sonder Christus is, dan is dit oud en reeds vervalle. Enige nuwe begin kan slegs in en deur Jesus Christus aangepak word. Trouens, enige begin is ten diepste eerste God se toedoen. So begin die Bybel immers: 'In die begin het God…” · Tweedens is God se werke 'n eenheid. Wat Hy begin en die uiteinde wat Hy bewerk, is aan mekaar verbind. God se werke is nie los en vas nie. Die begin en einde van God se dade word bekendgemaak deur 'n Persoon, sy eie Seun Jesus Christus. Alles wat God doen, van begin tot einde is verbind aan sy Seun Jesus Christus. Die begin van die evangelie, die koms van Jesus Christus, is van oudsher, lank gelede, reeds geopenbaar. God se begin en sy einde wat Hy bereik, is aan mekaar gebind - ook in 'n volk se lewe. Sit voort wat God begin Vir Orania se nuwe begin van 'n volgende groeifase moet ons deeglik hiervan kennis neem. Ons moet diep gewetens vrae vra: Is wat ons nou nuut begin 'n voortsetting van dit waarmee God lank reeds mee besig is? Vir 'n volk beteken dit dat ons moet lewe uit die feit dat

God se beloftes en bevele deur die geslagte standhou. Wat ons nou nuut kan doen, is omdat ons voorgeslag aan die eeue oue beloftes van God vasgehou het. Nuwe dade verg nuwe gehoorsaamheid. God se bevele en sy beloftes gee ons nuwe krag – maar dit kom van ver af. Ons is – ook as volk – ingebind in wat God ewig doen. Dit gee ons lewe sin. Ons stryd en ons vreugdes, ons oorwinnings en verliese, ons gelag en ons trane, word sinvol slegs as ons aanvaar dat Jesus Christus vir ons die begin en die einde is. Bekende pad Laat Orania se nuwe begin 'n voorsetting wees van die bekende pad van God se beloftes. Daarin het ons – ook as Afrikaner volk – die heerlike wete: in Jesus Christus hou al God se beloftes stand (2 Kor. 1:20). Laat dit vir ons en die hele Afrikaner volk ook 'n waarkuwing wees: sonder Christus is daar geen nuwe begin nie, daar is geen toekoms of goeie einde nie. 'n Volk sonder Christus is 'n woestyn volk sonder toekoms. Maar in Christus kan ons telkens weer nuut begin. Dit is wat ons nou doen, ons begin 'n nuwe hoofstuk omdat Christus opgestaan het. Ons doen dinge wat ons as volk nog nooit aangepak het nie, maar is bou op die vaste fondament, Jesus Christus. Die begin en die einde is ingebind in wie Jesus Christus is en wat Hy doen. Christus se koms en veral sy opstanding uit die dood maak alles nuut. Dié nuutheid word deur die Heilige Gees in ons gewerk. Mag ons nuwe begin in Orania wel uitloop op 'n Christelike republiek vir die Afirkaner. Mag dit 'n bewys wees van God se ou beloftes wat van nuuts stand hou vir elke geslag. Mag ons Christus se koms ook as volk so afwag en getrou enduit vashou aan die beloftes van God.

Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 8

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar