
Die Werksgebou sal Orania se eerste drieverdiepinggebou wees. Die gebou vorm deel van die Werksplein wat tans in ontwikkeling is, en dit sal uiteindelik deel uitmaak van die Orania Stadsplein. Die gebou sal kantoorruimte bied vir verskeie organisasies en sal afstand- en aanlynwerk vanuit Orania vergemaklik. Die boonste vloer bestaan uit 10 woonstelle wat aan die noordwestelike kant ’n pragtige uitsig oor die Karoolandskap bied, terwyl daar aan die suidwestelike kant uitstekende uitsigte is op waar die Stadsplein gebou word. Volgens Niël de Klerk, hoof Ontwikkeling en Belegging by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, behoort die Werksgebou teen Desember 2026 voltooi te wees.




