← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Meningsopname: Hoe Oraniërs hul kinders van eie arbeid en selfbeskikking leer

Prakties leer ons hulle deur huis take, voertuie was, skottelgoed was, kamers opruim en wegpak.

By Johan de Klerk se bydrae
By Johan de Klerk se bydrae

Paul Vogel

1. Dit is vir ons as gesin belangrik om saam om 'n tafel te eet, dit is hier waar ons gesels oor ons dag, wat ons beleef, huisgodsdiens doen, saam bid en praat oor ons manier van doen. 2. Prakties leer ons hulle deur huis take, voertuie was, skottelgoed was, kamers opruim en wegpak. 3. Ons volg ook 'n benadering waar ons ons kinders leer of selfstandige besluite te kan neem. Van kleredrag tot tydsbestuur vir skoolwerk en speel. Dit bou selfvertroue en leer aanpasbaarheid wat ons glo kern boustene is. Die beste voorbeeld is nie net woorde nie, maar in ons optrede en dade wat ons stel en wat ons kinders sien en ervaar nie net van ons as ouers nie, maar by die kerk en skool wat saam ons gemeenskap vorm.

Philip Naudé

Formeel rondom die kombuistafel op die Sabbatdag en met ons daaglikse lewenswandel, prent en patroon ons vir ons kinders 'n Godvresende lewensuitkyk. Vir jonger kinders is die onverdoeselde waarheid van mense-politiek 'n bykans onverduidelikbare en onregverdigbare verhaal van teenstrydighede. Vir dié wat bietjie meer lewenservaring bykry, probeer ons die Waarhede vanuit die Bybel en die sondige aard van die mens en die wêreld in praktyk uitwys. Ons vertrou dat indien ons ons kinders in die vrese van en respek vir God ons Vader onderrig, hulle in goeie stand met Hom én met die wêreld sal leef. Met 'n goed gevestigde lewensuitkyk, geanker in Geloof, is selfbeskikking vir enige minderheidgroep in 'n antagonistiese samelewing nie moeilik om te leer nie. Daar is niks nuut onder die son nie. Die kinders van Abraham was nog altyd reisigers en bywoners op die aarde.

Christelle de Villiers

Eie arbeid begin deur die voorbeeld te stel vir jou kinders. Gee vir jou kinders take om te doen, en leer hulle ook die beginsel van spanwerk. Wanneer kinders verantwoordelikheid neem vir dit wat hul moet doen, sal hul verstaan dat jy oor jouself beskik.

Anné van Zyl

1. Skep 'n realiteit in kontras met die res van SA. Die kinders sien dat daar by ander mense in die land hulp in die huis is, maar by ons doen ons dinge self. 2. Elke kind het 'n onmisbare werkie, soos skottelgoed uitpak en herwinning sorteer. Hulle moet ook self hulle eie speelgoed elke aand op hul plekke bêre. 3. Hulle leer van Orania-instellings soos OVD wat Orania se "eie polisie" is, want hier doen ons ons eie werk!

Johan de Klerk

My kinders verrig self sekere huishoudelike take. My kinders doen ook al van laat laerskool tot vroeë hoērskool betaalde werk in die dorp. Verder praat ons in die huis oor die waarde van eie arbeid.

By Christelle de Villiers se bydrae
By Christelle de Villiers se bydrae
By Anné van Zyl se bydrae
By Anné van Zyl se bydrae
By Paul Vogel se bydrae
By Paul Vogel se bydrae
By Philip Naudé se bydrae
By Philip Naudé se bydrae
Voorblad van Koerania - Junie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2025, bladsy 7

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar