
Dit het begin met haar 2014-debuut, Die 13de kaart. Die roman was nóg 'n krimi in 'n getygolf van krimi's, maar tog ook baie anders. Sielkunde het Rust gefassineer, en daarom het sy Belia Bell, 'n forensiese sielkundige, geskep om haar moorde op te los. Die vraag oor kanker het ek reeds in een van ons heel eerste gesprekke gevra, want die wenk is toe reeds duidelik gegee. Sy het dit egter doodgepraat en ek het dit so aanvaar. Bemarkers krap rond in ons “objekte” se persoonlike lewens, maar ons weet ook wanneer om ons bekke te hou. Haar nie wil praat oor kanker nie, het niks met ydelheid te doen gehad nie. Sy wou eers bekend word as 'n skrywer, nie as 'n Martie Martelgat nie. Ilse Salzwedel skryf in 'n huldeblyk: (Uittreksel) Pyn wat sy nooit toegelaat het om haar lewe te oorheers nie. Sy het elke oggend 4:00 opgestaan om vir minstens twee uur te skryf. Dít, het sy geglo, is haar terapie teen die pyn. Haar jongste boek, Drie moorde in die baai, het verlede week die rakke getref. Haar aanhangers het dit nie geweet nie, maar toe was sy reeds op haar sterfbed, onbewus van die groot vreugde onder lesers oor nog 'n boek. Hierdie keer 'n cozy, of snoesige misdaadroman. Gaan lees gerus haar kankerboeke om te hoor hoe lekker kon sy ook met haarself spot, selfs in die donkerste tye.
Die volgende boeke het uit Madelein se pen verskyn (in geen spesifieke volgorde nie): • LAPA: Die 13e kaart, Monstersaad, Bloedlyn, Doodsengel, Moordhuis, Lam ter slagting, My naam is Legio, 25 trappe na benede en Kanker schmanker! (niefiksie). • NB-UITGEWERS: Moederland, Siembamba, Bessie se hangkasbiblioteek, Drie moorde in die baai en Van vrees na vrede (nie-fiksie).




