
As die mure van die Klipkapel by die Voortrekkermonument in die Jakarandastad kon praat, sou die verhale wat daaruit eggo van ewige trou en troos, eerste liefde en laaste groet getuig. Die vensters van dié besonderse klipkerkie aan die voet van die Monument is onlangs deur die bekende loodglaskunstenaar Chris Boshoff in 'n kleurvolle kunswerk omskep wat geloof en genade, verkwikking en vertroosting in 'n ligdans spieël. Boshoff se glaskuns is reeds 'n bekende gesig by die Monument. Sy indrukwekkende 3,8 m hoë Gelofte-loodglaspaneel pryk sedert Junie 2022 in die Senotaafsaal. Sy jongste skepping, ses vensterpanele vir die kapel, is 'n droom van meer as twee jaar wat op 13 Januarie vanjaar bewaarheid is. Die ses panele neem 'n mens op 'n geruislose geloofsreis: die kruis simboliseer die Evangelie; 'n troupand vergestalt twee geliefdes se belofteband; twee disas wat vir Boshoff 'n mooi toevoeging tot die kapel was; 'n “lelie van die veld ” wat herinner aan Jesus se woorde in Mattheus 6:28-30; en twee hande wat, vir oulaas, in 'n afskeidsgroet na mekaar uitreik. “Die Monumentterrein lê my baie na aan die hart,” sê Boshoff. “Dié kultuurtuiste is soveel meer as 'n sigbare historiese simbool van standvastigheid; dis 'n hoopvolle baken van behoort. Dis 'n voorreg om my talent te kan gebruik om die terrein uit te bou en die hoorbare hartklop van duisende te vergestalt.”
Die Kapel is deur MEG Argitekte ontwerp en bouwerk is in 2021 voltooi. Sedertdien is honderde huwelike hier voltrek, babas aan die Here opgedra en geliefdes gegroet. “Die Kapel is een van die hartkamers van die kultuurtuiste; 'n stil getuie van geloof, hoop en liefde. Van gisters wat was en opwindende toekomspaaie wat in geloof gegrondves is,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “Boshoff se betekenisvolle werk getuig nie net van dié kunstenaar se ongelooflike vernuf, vaardigheid en verstaan nie, maar veral van die krag van kuns om kulturele identiteit en bewussyn te verewig en vir volgende geslagte oop te breek. “Loodglaswerk is 'n eiesoortige kunsvorm met 'n onmeetbare waarde om stories te vertel. Elke skuif van die son bring 'n verrassende wending, soos die blaai van 'n boek, die kleurvolle kwas van die Meesterskilder,” sê Langner. “Boshoff se bydrae vorm 'n belangrike en betekenisvolle deel van ons toekomsbouverhaal.” Die Monumentterrein het oor die jare gegroei tot 'n hartlike tuiskomplek vir oud en jonk – waar kultuur gedy, elke lewensfase gevier en geloof gelééf word. Om jou troue, gedenkdiens of doop in die besonderse Klipkapel te hou, stuur 'n e-pos na besprekings@kultuurtuiste.org.za




