← Gemeenskap

· Deur Wynand Boshoff

Lewenswyse en ideologie – twee aspekte van kultuur en hoekom Orania nog betreklik klein is

As jy dit doen, wen jy enige verkiesing in daardie gebied.

Lewenswyse en ideologie – twee aspekte van kultuur en hoekom Orania nog betreklik klein is – foto 1

Orania bied aan Afrikaners 'n eenvoudige plaasvervanger vir die kwotas, BEE-teikens en transformasievereistes wat Suid-Afrika vandag kenmerk: Identifiseer 'n deel van die land, trek soontoe in groot getalle en bevolk die ekonomie met eie besighede en eie arbeid. As jy dit doen, wen jy enige verkiesing in daardie gebied. Selfs 'n referendum oor onafhanklikheid. Die regering kan kommunisties wees (onwaarskynlik), sosiaaldemokraties (ook), of sentraal-regs (heel waarskynlik) – maar dit sal 'n Afrikanerregering wees. Hoekom gryp Afrikaners dit nie oorweldigend aan nie? Tegniese hindernisse en tekort aan kapitaal is beslis nie die probleem nie. Binne Afrikaner-geledere is daar genoeg hulpbronne om die twee hekkies te oorkom. Minstens deel van die antwoord is om tussen die lewenswyse – en ideologiese aspekte van kultuur te onderskei. Lewenswyse verwys hier na die manier van doen, waaroor mense selde nadink of verklarings maak. Ideologiese aspekte is die teenoorgestelde: Weldeurdag en baie uitgesproke. Die denkbeeld van volksvryheid, van hoe jy goed sal doen as 'n vreemde heerser jou nie oorheers nie, is ideologies. Dit spruit vanuit die behoefte om kultuur te beskerm, maar dit beïnvloed ook die lewenswyse. 'n Weermag is 'n produk van ideologiese denke; en militarisme wysig die lewenswyse. 'n Wesenlike kenmerk van Afrikaners se lewenswyse, is dat mense van buite die volksgroep handearbeid verrig. Dit het begin met die invoer van slawe (uit Afrika en Asië en derhalwe opsigtelik anders) en voortgegaan met die inheemse bevolking van Suid-Afrika – bruin en swart.

Hierdie kulturele aspek is wel nie eie aan die Afrikaner nie, want dit was kenmerkend in alle Europese kolonies. Tog: Elders het koloniste óf slegs tydelik in die kolonie gebly, óf met die plaaslike bevolking saamgegroei, óf die plaaslike bevolking uitgewis. Afrikaners het nie een van die drie gedoen nie. 'n Permanente samelewing het gevorm waarin Afrikaners (en ander blankes) grond koop, ruil of verower; en dan die inwoners daarvan in diens neem – nie altyd volgens 'n markmeganisme van gewillige werkgewer gewillige werknemer nie. Hierdie is 'n feodale verhouding, wit heersers en 'n swart of bruin diensklas, is die norm vir wit mense so lank hulle in Suid-Afrika woon, ongeag waar of wanneer. Sienings oor kerk, staat, samelewing en kuns kon teenoorgesteld wees, maar die huislike werklikheid vertoon dieselfde basiese patroon. Na 1994 moes Afrikaners kies tussen berusting by die onvryheid wat meerderheidsregering vir 'n klein minderheid behels; emigrasie – eintlik vervreemding van die eie identiteit; of vestiging in 'n samelewing wat eie arbeid, of ten minste werkers vanuit jou eie volk, sou vereis. In dieselfde tyd wat Orania tot 3 000 inwoners gegroei het, het honderdduisende Afrikaners óf na die Kaap, óf na die Tuinroete, óf na die buiteland verhuis. Ideologiese aspekte van kultuur sal mense tot groot uitsprake en selfs militêre diens oorhaal, maar nie tot 'n nuwe lewenswyse nie. Die boodskap van Orania is eenvoudig en uitvoerbaar, maar volledig in stryd met die tradisionele lewenswyse van Afrikaners; van die kultuur soos dit geleef word. Dalk is dit die belangrikste rede vir Orania se beperkte groei: Die keuse is op die oog af nie so ingrypend as wat dit in werklikheid is nie.

Voorblad van Koerania - April 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2025, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar