
Op die ouderdom van 19 maak hy baie geld met sy dobbelafhanklikheid en dié leefstyl spiraal tot 'n lewe van chaos. Vandag is dié 41-jarige reeds 6 jaar 2 maande en 28 dae vry van dwelms, drank en 'n akute dobbelverslawing. Wie sou kon dink dat 'n seun wat vir baie jare op skool gespot en geboelie was omdat hy gestremd is, so sterk sou opstaan? “Ek het breinskade opgedoen toe my ma, Gerda, 8 maande swanger was met my en in 'n motorongeluk betrokke was. Die impak van die stuurwiel het my ma seergemaak, en my linkerbrein het skade gekry. Ons het twee sussies in die ongeluk verloor,” vertel hy. Die talle chirurgiese prosedures wat hy tussen die ouderdomme van 4 en 12 moes ondergaan het hom gedurig met krukke gelaat. “Ek was altyd besig om te herstel van een of ander operasie. Ek het goeie oog-hand koördinasie, maar rugby en krieket was vir die normale ouens,” sê Fanie. Die dag toe hy die besluit geneem het om vir hulp te vra het hy geweet dat hy die einde van die pad nader. “Ek was op die klimaks van my verslawing. Ek wou uitkom, maar wou niks doen nie, want ek het oor min goed omgegee. Ek was duur vir almal wat in kontak met my gekom het – emosioneel en finansieël.” Hy het besef dat hy net een oor begin oor het. Hy was kreatief en gebroke, maar opgewonde. Vandag is hy nederig dankbaar, liefdevol, respekvol en opbouend. “Ek is opgewonde, want daar is vir niemand limiete nie, en ek is ook iemand!” Hy maak 'n skokkende stelling: “As ek met my groot ego sogenaamd normaal was, sou ek al dood wees. My linkerkant moet my gawe van gestremdheid beskerm.” Sedert Fanie Walkenshaw, aka Left Sleeve, op 6 September 2023 sy eerste Tiktokvideo gemaak het is daar tans meer as 1.6miljoen volgers op sy sosiale media platforms. Koerania het hom in Hoekwil gaan ontmoet waarvandaan hy sy motiveringsbesigheid bedryf.
Fanie is blatant eerlik wanneer hy met sy gehore gesels. Hy vertel: “Die Fanie van byna 10 jaar gelede was geskei, emosioneel onvolwasse, selfgesentreerd en onbetroubaar met 'n gebroke selfbeeld.
My slagoffermentaliteit en geweldige verlange na my pa het daartoe gelei dat ek met niks opgeeindig het. Ek was eensaam en afhanklik van almal en alles om my!” Hy is gemaklik in sy lyf. Hy voel bevoorreg om 'n gebrek te hê, nie omdat dit 'n voorkeur is nie, maar omdat hy elke oggend onthou wat hy moet doen om dankbaar te wees. Hy maak kontak met sy luisteraars en kykers. Hy is blatant eerlik en opbouend. “Ek word gefassineer deur feëverhale en goeienuus-stories. Ek is hals oor kop verlief op die liefde en ek dink ek sal altyd wees.” Left Sleeve vermaak gehore landwyd met sy wonderlike vermoë om woorde na gedigte te improviseer. Daar is nie einde aan sy digkuns nie. Sy kwesbare eerlikheid is sy eie laste wat hy hardop dra, want dan dra sy gehore dit saam met hom. Hy loop met sy eie kwesbaarheid op sy mou. “Ek is 'n “geek” wat lief is daarvoor om gediggies te skryf. Ek kan nie die wêreld verander nie, maar ek kan verander waar my voetspore is. Enige persoon kan self besluit of hulle wil saamstap. Gediggies is nie cool nie, maar hoe abstrak dit ookal mag wees, daar is 'n massiewe plek in die son daarvoor. Dit is wat ek kan verkoop, want ons kort dit.” Daar is geen digter met wie hy identifiseer nie. Hy skryf nie akkuraat of dalk taalkundig korrek nie, maar eerlik. Daar kom binnekort 'n boek: Realisties, wat hy self gaan uitgee. Televisieverskynings wink en internasionale optredes gebeur in September 2025. Hy is 'n groot aanhanger van die UFC-vegkuns. “My swaer het my 4 jaar terug daaraan blootgestel en ek is verlore daarin! Daar is waar ek wonder of ek goed sou wees in sport. Sou ek dalk regshandig wees as ek myself kon verdedig? Sport bevat soveel variasie en inhoud.” Max Holloway met die bynaam, Blessed, inspireer hom. Aanraking en omgee is sy liefdestaal. In sy kop is die middel van sy lewe so naby aan die einde daarvan. “Ek is 5 jaar weg van hoe oud my pa geword het. Ek het so groot behoefte om ouer te word, sodat hy kan.” Left Sleeve wil sy seëninge en gawes uitdeel. “Ek kan net hou wat ek het deur dit weg te gee.” Hy leer homself die vermoë om alles te bereid waar hy nie vandaan kom nie. “As ek stilsit en besef dat ek alles het, kan ek net terugkom na waar ek vandaan kom. Waar my voete is.”




