
Oudtshoorn het behoorlik uit sy nate gebars met die 29ste KKNK wat vanaf 31 Maart tot 6 April met groot fanfare aangebied is. “Ons is dankbaar dat bywoning uitstekend was – in die Feesmark én teaters, asook by areas en aktiwiteite wat gratis in Baron van Reedestraat aangebied is. Wanneer daar na die afgelope jare se statistieke gekyk word, staan vanjaar uit en vergelyk met die beste van die pre-Covid-19-feeste in die onlangse dekade,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK. Koerania het die fees bygewoon en woorde soos: briljant, asemrowend, fantasties en gekunsteld, is gereeld in gesprekke gehoor. Inwoners van die dorp en besoekers was dit eens dat vanjaar weer 'n nuwe standaard gestel het, wat elkeen na 2026 laat uitsien. Die tema “al die ietse, vir elke iemand” was beslis in teaters, op buiteverhoë, in sale, ouditoriums, tente en op die feesterrein uitgebeeld. Daar was koskeuse wat jou mond laat water het vir meer. Oral in die strate en op die feesterrein, wat 'n eenheid gevorm het, was daar aktiwiteite wat die kreatiwiteit uitgedaag het en mense kon inspireer om BETER te wees en te doen! Die verskeidenheid lyk soms oorweldigend, maar wanneer jy na mense se menings luister is dit duidelik dat smaak verskil, en daarom die diverse keuses wat op die program ingesluit word. Koerania het die drama Stinkhout, die uitstekende ballet SALT en Marion Monroe met Marion Holm geniet. Op die musikale front het die 29-stuk-simfonieorkes tydens die Openingskonsert, onder leiding van Richard Cock en Charl du Plessis op die klavier die gehoor in vervoering gehad. Ons land se briljante musikante het hulle fyn aanvoeling en onblusbare talent getoon waar sommiges van een verhoog na 'n volgende moes wikkel om ook daar hulle deel te doen. Peter Auret, Werner Spies, Christiaan Rabie, Marcel Dednam, Coenraad Rahl, Deryn Dednam en meester Mauritz Lotz, om net 'n paar te noem, was uitmuntend en laat jou met soveel trots. Ander vertonings wat ons bygewoon het was Die ses snare se reunie – fantasties, Jak de Priester en Antoinette Pienaar – goed, Bach en Beatles – briljant, Blues by die kruispad – skitterend, 88 met Coenie en Rocco de Villiers – VERRUKLIK! Daar was ballet, kuns, musiek, instrumentale optredes, sangers, mimiek kunstenaars, kletsrymers, orkeste, DJ's, en vele meer wat vir die vermaak gesorg het. Die boekgesprekke het vir afwisseling gesorg en as 'n tema jou nie aangestaan het nie, was daar diskoers gesprekke wat 'n keurlys van sprekers en opinievormers ingesluit het. Orania se naam was meer as eenkeer op verhoë tydens diskoersgesprekke genoem. In die gange en sale het Koerania graag menings van die publiek gevra om vas te stel of mense werklik die Orania-idee verstaan. Ons was aangenaam verras deur die positiewe terugvoer van persone wat ons dorp reeds besoek het, en 'n horde het aangedui dat 'n besoek op hulle tedoen-lysie vir die nabye toekoms is. “Ons staan beslis nie alleen nie!”
Die KKNK is die moederfees van Afrikaanse feeste en die vieringe vir nommer 30 word van 28 Maart tot 4 April 2026 beplan.


















