← Gemeenskap

· Deur Janos Jeney

Kartograaf besoek Orania vanuit Hongarye

Toé het ek tyd in Kaapstad en Pretoria deurgebring.

Janos Jeney.
Janos Jeney.

Die laaste keer wat ek Suid-Afrika besoek het, was in 2023. Toé het ek tyd in Kaapstad en Pretoria deurgebring. Ek moet sê, aangesien ek die meeste van my tyd in plekke deurgebring het wat aan instellings van die Solidariteitbeweging behoort, het ek nie regtig ervaar hoe Pretoria werklik is nie. Ek het egter gesien dat die Voortrekkermonument baie mooi ontwikkel het sedertdien en dat die instellings van die Solidariteit-beweging uitgebrei het. Ek het die geleentheid gehad om Akademia te leer ken en te sien hoe dit mooi ontwikkel. Terselfdertyd moet ek byvoeg dat Suid-Afrika ietwat verander het sedert ek in 2019 daar was. Toe ek hierdie keer aangekom het, was daar geen beurtkrag nie, maar dit het egter tydens my verblyf teruggekeer. Terwyl dit nie 'n direkte probleem in Orania blyk te wees nie, het dit 'n groot impak op die ekonomie, wat ek aanneem, Orania ook beïnvloed. Nog 'n hartseer punt is die toename in misdaad in KwaZulu-Natal oor die afgelope vyf jaar en die gebrek aan instandhouding van begraafplase. Die instandhouding van paaie is 'n probleem. Een derde van Hongare woon buite Hongarye se grense en moet veg vir moedertaalonderrig en die gebruik van hulle moedertaal in kulturele en amptelike omgewings. Hierdie stryd is soortgelyk aan dié van die Afrikaner in Suid-Afrika, en daarom het ek in 2024 twee Afrikaners in Transsylvanië gehuisves om hulle aan ons omstandighede bloot te stel. Alhoewel ons kulture op baie maniere verskil, is daar baie interessante ooreenkomste. Die belangrikste hiervan is ons Christelike geloof, maar ook klein dinge, soos dat mense in landelike Hongarye mekaar altyd groet wanneer hulle mekaar ontmoet. Dit was baie soortgelyk in Orania. In Transsylvanië het ons 'n gebied van 12 000 vierkante kilometer waar Hongare die meerderheid uitmaak (dit is omtrent die helfte van die Hongare in Transsylvanië). Ons wil hê dit moet 'n Hongaarse selfbeskikkingsgebied wees. Elke jaar word 'n versoek aan die Romeense parlement gerig vir outonomie, en elke keer word dit afgekeur. In Orania vra mense nooit die regering om vir hulle iets toe te staan nie – dit word eenvoudig gedoen, en die regering moet dit aanvaar. Een van ons grootste probleme is dat mense van ander kulture intrek en ons kultuur verswak. In Orania word hierdie probleem opgelos deurdat inwoners 'n verblyfpermit benodig. Dit sou 'n baie interessante les wees vir die Hongare wat vir selfbeskikking veg. Nog 'n interessante les is die Volksskool. Dit is 'n manier om moderne tegnologie te gebruik terwyl verantwoordelikheid reeds op 'n jong ouderdom aangeleer word. As jy onder 'n regering leef wat jou kultuur onderdruk, kan dit baie vinnig gebeur dat hulle probeer om jou kultuur heeltemal uit te wis. Een ooreenkoms tussen Afrikaners en Hongare is dat ons albei se kulture afhanklik is van ons taal. Geen van ons kulture sal oorleef as ons ons taal verloor nie. Sommige mense sê dalk dat Hongare in Transsylvanië eenvoudig na Hongarye toe kan trek, maar dit sou 'n deel van ons kultuur uitwis en sou vir ons baie sleg wees. (Die idee van 'terugtrek' is nie van toepassing nie, aangesien Transsylvaanse Hongare al vir 'n millennium daar woon – jy kan nie teruggaan na 'n plek waar jy nooit geleef het nie). Trouens, Transsylvaanse Hongaarse kultuur verskil ietwat van die kultuur in Hongarye. Wanneer 'n regering jou taal begin onderdruk, kan hulle baie vinnig jou kultuur uitwis. Nog 'n voorbeeld van hoe 'n regering 'n gemeenskap kan vernietig, is wat tydens die kommunistiese era in Roemenië gebeur het, waar daar 'n skema was om dorpe te vernietig. Volgens die regering se propaganda was hierdie dorpe onvolhoubaar, aangesien hulle te klein was, en 'n hoër lewenstandaard kon slegs in die stede behaal word. Dit was egter nie waar nie, want die behuising wat die mense ontvang het, was van 'n baie laer standaard as dit waarvan hulle verplaas is. Toe hulle in woonstelblokke geplaas is, het baie van hulle hul kultuur en taal verloor en eenvoudig geassimileer in 'n kulturele smeltkroes. Dit is waarom selfbeskikking so belangrik is. Die werklike rede vir hierdie gedwonge verskuiwings was om die mees basiese deel van selfbeskikking, naamlik die gemeenskap, te vernietig. Wanneer 'n minderheidsgemeenskap vernietig word en die mense na 'n groot stad verskuif word, assimileer hulle dikwels in die meerderheid. 'n Regering wat 'n minderheid as 'n vyand beskou, sal probeer om sy gemeenskapstruktuur op die beste moontlike manier te vernietig. As die VSA te veel Afrikaners as vlugtelinge aanvaar, kan dit 'n probleem skep vir dié wat in Suid-Afrika agterbly. Dit kan dalk 'n oplossing vir individue wees, maar wat gaan gebeur as die mense wat uitgaan, in Amerika bly? Hulle sal hul taal en kultuur verloor en nooit terugkeer nie. Dit sal die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika verswak. Net soos in die geval van Transsylvaanse Hongare – as hulle Transsylvanië verlaat, sal die Transsylvaanse Hongaarse kultuur verlore gaan. Alhoewel emigrasie nie met geweld gestop kan word nie, moet die probleem plaaslik opgelos word. Dit kan gedoen word deur territoriale selfbeskikking, soos in Orania of Oos-Transsylvanië. Tog moet ons ook oorweeg dat gebiede waar ons nie in die meerderheid is nie, steeds deel van ons kultuur is. Dit geld vir Hongare in Wes-Transsylvanië, net soos vir Afrikaners in Pretoria en Bloemfontein. In sulke gebiede is die enigste oplossing om 'n netwerk van kulturele instellings te bou. Ek voel dat Afrikaners verder gevorder is as ons in die oprigting van sulke instellings. Maar as 'n kultuur van sy grondgebied afgesny word, sal dit ophou bestaan. Om mense in groot getalle na buitelandse lande te verskuif, is nie 'n goeie idee nie. Die enigste uitsondering is waar ek geen ander oplossing sien nie – as mense se lewens bedreig word, veral as dit as gevolg van 'n minderheidsstatus is. Sodra die gevaar verby is, moet daar egter hulp wees om mense terug te laat keer. Dit is egter nie tans die geval in Suid-Afrika nie. Alhoewel misdaad 'n probleem is, is dit nie 'n groot probleem in Orania nie. My moedertaal is Hongaars, maar ek praat ook Engels en Duits. Alhoewel my Afrikaans baie swak is, verstaan ek wel sommige woorde, aangesien daar ooreenkomste met Duits is en ek reeds daaraan blootgestel is. Ek wil egter Afrikaans leer, aangesien dit ons volke kan help om mekaar beter te leer ken. In die Weste is daar 'n baie slegte neiging om weg te draai van die Christelike geloof. Dit is 'n baie negatiewe tendens, aangesien hierdie kulture almal hul wortels in die Christendom het. Dit is nog 'n manier om jou kultuur te verloor. Ek kan nie Hongaarse of Afrikanerkultuur sonder die Christendom indink nie. Ek glo ook dat as God nie 'n doel vir ons mense gehad het nie, sou hierdie kulture waarskynlik nie meer bestaan het nie.

Voorblad van Koerania - Maart 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar