
JP Combrink het vir 'n graad in Sielkundige studeer, maar nie sy prakties voltooi nie. Sy mallemeule-lewe het hom daarna wye lewensondervinding laat opdoen. Hy het met verrassing sy verkiesing tot die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) aanvaar. Vir hom is die OVR meer as net 'n hoogste gesag; dit is die instrument om werklike verandering teweeg te bring en onophoudelik vir Orania se selfbeskikking en die drome van sy mense te beding. JP is daarvan oortuig dat om bloot 'n plekhouer te wees tot die volgende verkiesing, tydmors is. Die nuwe raad se primêre fokus moet die uitbou van 'n grondwet wees. Hy beklemtoon dat die mandaat wat hy ontvang het, nie beteken hy mag namens die mense besluit nie. Inteendeel, die gemeenskap moet op die reis saamgeneem word en gehoor, verstaan en belange op die hart gedra word. Slegs dan sal daar respek vir die OVR se besluite wees. Sy leierskapstyl is gebaseer op die beginsel dat 'n leier sy mense moet kan saamneem. Indien nie, moet hy padgee vir iemand wat dit kan doen. Hy gun die pioniers van Orania alle eer, maar sien die noodsaaklikheid in om die nuwe energie van jonger inwoners te benut. “'n Draadsitter vorder nie," meen Combrink; 'n besluit, selfs in moeilike omstandighede, is nodig. JP streef na 'n klein, effektiewe groep wat sinvol kan debatteer en kommunikeer, gegrond op beginsels. Dit is 'n strewe na 'n model waar mense "deel aan die proses het," nie net 'n elite groep wat besluite vir hulle neem nie. Sy grootste selfopgelegde taak is om die “V” in die OVR te versterk deur Oraniërs se belange te beskerm terwyl ons druk vir selfbeskikking.




