
“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” 1 Pet. 2:6. “So sê die HERE: Kyk, Ek lê in Sion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.” Jes 28:16. Ons vaste fondasie Die Here se raadsbesluit is die vaste fondament van alle dinge. So gou kan mens dit misverstaan en in die plek van vaste troos, kan onverskilligheid en fatalisme die oorhand kry. God wil sy kinders troos en hulle 'n vaste basis voorsien om op te hoop. Ons sien in die twee Skrifgedeeltes hierdie basis raak. Die eerste vaste vertrekpunt is die raadsbesluit van God self en die tweede is die hoeksteen vanuit daardie besluit. Die Bybel leer op verskeie plekke dat die raad van God die beginsel is van alle dinge in ons lewe (vgl. Gen. 1:26, Ps 2:6-7, Job 38:2, Amos 3:7, Efes. 1:4). Jesaja verkondig ook hierdie raadsbesluit van God waardeur Christus as Middelaar vir ons gegee is. Jesus Christus, die geskenkte hoeksteen, het 'n vaste grond onder Hom – die ewige besluit van God die Vader, Seun en Heilige Gees. Die besluitende God maak sy besluit bekend. Dit is Hyself, die enige “Ek Is” wat die Middelaar stuur. God se ewige besluit is die diepste grond van ons verlossing. Watter troos en genade lê daarin opgesluit. God – en slegs die enige ware God – besluit oor ons lewe. In hierdie dae is dit so brood nodig om aan die soewereiniteit van God weereens vas te hou. Geen mens, geen staat, die satan en al sy meelopers, sal uiteindelik nie besluit wat van ons lewe word nie. Die Here regeer, en Hy alleen. So sê God self van sy raadsbesluit in Psalm 2:6: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Die aarde kan maar skud en beef, ons vyande kan maar rook en blaas, God voer sy vaste raadsbesluit uit. God bou sy kerk en koninkryk op die vaste fondament van sy Seun as gesalfde Hoof. Jesus Christus is gesalf met die Heilige Gees om die vaste fondament te wees waarop God se vaste besluit uitgevoer word. God het besluit dat Hy deur sy Seun, Jesus Christus, sal regeer. Die Heilige Gees werk hierdie besluit uit in die lewe van mense. God stuur Hom, Jesus Christus as Verlosser en Koning. Die Here Jesus is die Hoof van alle dinge, en as sodanig is Hy as Hoof van die gemeente gegee (Efes. 1:22-23). Beproef Die profeet stel dat Jesus Christus die beproefde steen is waarop God sy hele gebou oprig. Hierdie woord 'beproef' beteken twee dinge. Soos wat vuur erts louter totdat die egte metaal te voorskyn tree, so is Christus beproefd verklaar voor God se gerig en oordeel. Dit het veral geblyk uit sy kruis en opstanding waar God se Seun die oordeel van God oor die sonde gedra het, ook 'n volk se sondes. Christus is beproefd verklaar as die Een wat die sonde kon betaal. Maar meer nog, Hy het ook ten tweede egte gehoorsaamheid bewys. Hy het betaal vir die sonde en Hy was – letterlik – tot die hel en die dood toe – gehoorsaam aan sy Vader. Christus voer die vaste besluit enduit deur. Christus is ook die hoeksteen waarop die tempel van God verrys. Die tempel is uiteindelik die ware gelowiges wie se lewens gebou is bo-op hierdie hoeksteen, Jesus Christus. In die hoeksteen word die hele gebou se struktuur en vastheid gewaarborg. God bou met mense se lewens, as lewende stene sy gebou klaar. Deur sy Heilige Gees deel Hy sy gehoorsaamheid uit aan die wat aan God behoort. Dit strek ver uit en raak alle lewenslope aan, ook 'n volk se lewe voor God. Hoe staan ons voor God se gerig? Hoe staan ons tot God se genade? God doen dit omdat Hy sy raadsbesluit uitvoer, en hierdie besluit sluit alle dinge in, van die grootste tot die kleinste. Dit sluit ook ons lewe, persoonlik in maar ook ons hele volk se lewe. Glo en doen Mag ons in hierdie dae waar die volgende fase van ons ontwikkeling nou aanbreek, dit onthou: Jesus Christus is ons enigste ware hoeksteen. Mag alles wat ons dink en beplan en doen, staan teen die teken van hierdie enige hoeksteen. Mag dit die roepstem wees waarmee ons ons mede Afrikaners roep tot nuwe gehoorsaamheid as volk aan God. Dán kan ons leef uit 'n vaste wete – ons sal nie beskaamd staan nie. God sal klaar maak wat Hy begin het. Wat God in die voorgeslag begin het, sal Hy in ons kinders se lewe volvoer. God voer sy raadsbesluit uit, op die hoeksteen van sy Seun se lewe. Mag Jesus Christus deur die hele Orania erken word as die enigste Hoof. Hy is ons vaste fondament, op Hom kan ons geduldig bou – ook tot 'n vrye Christelike republiek.




