
Eric was vol lof vir Orania. Hy het gese dit is baie groter en beter georganiseer as wat hy gehoor en verwag het. Hy was aangenaam verras deur die infrastruktuur, die getal inwoners en al die ekonomiese bedrywighede hier. Hy het gevoel dat hulle heelwat by Orania kan leer maar dat hulle omstandighede en dié van Orania hemelsbreed verskil. Die eerste Terug na die Land-bewegings het reeds in 1975 plaasgevind toe groepe alternatiewe denkers uitbeweeg het van 'n omgwing en kultuur wat hulle as beperkend en beklemmend ervaar het. Hulle het vrede en vryheid gesoek en uitbeweeg na ylbevolkte plattelandse gebiede waar hulle klein gemeenskappe gestig het en hulle met sogenaamde “Homestead Farming” onderhou het. Volgens Eric was ongeveer 90% van alle openbare poste destyds deur blankes van Europese afkoms gevul. Hierdie syfer het nou tot ongeveer 50% gedaal. As gevolg daarvan het mense begin voel dat hulle graag weer na iewers wou beweeg waar hulle hul Europese afkoms, kultuur en tradisies kon uitleef en bewaar, waar dit veilig is en vry van die morele en sedelike verval in die land, veral met die oog op hul kinders se toekoms. Ongelukkig is daar in die VSA al soveel wette uitgebring wat enige vorme van diskriminasie verbied en absolute diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit afdwing dat dit moeilik was om 'n model te vind wat hulle kon gebruik. Intussen het hulle 'n gebied in die Ozarks in Noord Kansas ge-identifiseer en die wiele aan die rol gesit. Hulle het 'n PMA (Afrikaans: Private Lede Assosiasie) klub gestig met reëls waaraan voldoen moes word wanneer iemand aansluit. Lede kon dan drieakkererwe in die gemeenskap deur 'n LLC (Maatskappy met beperkte aanspreeklikheid) aankoop. Op hierdie manier kan hulle wettig besluit wie hulle tot die gemeenskap gaan toelaat. Die Return to the Land se doelwitte is om 'n hele klomp van hierdie gemeenskappe te skep in talle geskikte areas van Amerika. Hierdie is dalk 'n baie slim plan, want as daar 'n paar sulke gemeenskappe redelik naby aanmekaar is, kan dit met tyd groei tot 'n dorp of selfs 'n streek. Anders as Orania het hulle op die oomblik nog geen strewe na onafhanklikheid nie en hulle sluit ook nie anderstaliges uit nie. Hulle bewoners hoef slegs bewese Europeërs met goeie Christelike waardes te wees. Aansoeke vind deur hul webwerf www.returntotheland.org plaas en kandidate moet 'n onderhoud deurgaan om goedgekeur te word. Die koste van 'n gemiddelde woonhuis in die VSA wissel tans tussen $250 000 en $350 000. In hulle gemeenskap kan drie-akkergrond vir $6000 gekoop word en een van hulle aandeelhouers het 'n veertig vierkante meter houtkothuis met geriewe vir $20 000 gebou. Hulle kan water of deur boorgate of tenks met drukpompe aanlê en elke huis moet 'n goedgekeurde septiese tenk hê. Die kostes maak dit dus baie aantreklik om daarheen te verhuis, want meeste gesinne kan op die ongeveer 1.2 hektaar selfonderhoudend boer en selfs aan naburige dorpe verskaf. Hulle lê ook baie klem daarop om goedgekeurde inwoners, wat nie op daardie stadium eiendom kan koop nie, maar hulle arbeid aanbied, baie goed te versorg. Kinders kry grootliks tuisonderrig, maar word wel toegelaat om sekere goedgekeurde Christelik gebaseerde skole by te woon. Hulle het ook 'n baie interessante “Peer Research Agency” waar inwoners met geskikte kwalifikasies en ondervinding kursusse opstel wat hulle dan gebruik om hul maats op te lei en sodanig meer suksesvol te maak. Hul bestuur word vir 'n twee jaar termyn deur die inwoners verkies maar kan deur 'n mosie van wantroue summier verwyder word. Eienaars mag ook weens ernstige wangedrag uitgesit word, maar behou hulle eiendom. Eiendom is ook oordraagbaar aan hul nageslag. In 'n daaropvolgende gesprek met Eric het hy twee goed gesê wat my nogal warm onder die kraag gehad het. Die eerste was dat slegs mense met eiendom 'n sê moet hê oor die bestuur van die gemeenskap, want, volgens hom, het mense sonder eiendom op een of ander stadium swak besluite geneem wat daartoe gelei het dat hulle nie eiendom besit nie. Sodanige mense is, volgens hom, nie geskik om besluite te neem oor die bestuur van die gemeenskap nie. Die tweede was dat hy geen empatie het met mense wat 'n klein sakeonderneming sou begin en dan al hul geld verloor nie. Volgens hom is dit maar hoe die vryemarkstelsel werk. Dit is miskien waar as jy totaal objektief enige plek in die land kon gaan handeldryf, maar my gevoel is waar jy agter 'n ideologie aan trek met sekere omstandighede wat aan jou voorgehou is, en jy dan faal, jy baie meer begrip en ondersteuning verdien. Ek was oor die algemeen nogal beindruk met hulle model en voel dat ons op ons beurt ook 'n paar goed by hulle kan leer.





