← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Het wag ‘n wagwoord?

Deesdae kan ons niks ontsluit sonder om ‘n wagwoord daarvoor te skep nie. Elke denkbare toepassing vra ‘n wagwoord.

Deesdae kan ons niks ontsluit sonder om ‘n wagwoord daarvoor te skep nie. Elke denkbare toepassing vra ‘n wagwoord. Ek en jy kan nie ‘n aanlyn bankrekening gebruik voordat ons ‘n wagwoord geskep het nie.Dit voel of daar ‘n komplot gesmee word, iewers in die wêreld, wat veroorsaak dat ons kwansuis agter ‘n wagwoord kan wegkruip. Intussen weet ons almal: “Big brother is watching!” Daar word intussen baie gesprekke met mense gevoer wat vir iets, iemand of ‘n okkasie WAG. Wat het gebeur dat ons as Afrikaners so swak is met wag? Ons is gedurig haastig om iets klaar te kry, verby te kry of as afgehandel te beskou. Onmiddellike bevrediging het deel geword van ons alledaagse lewens. “Wanneer wil jy die diens of produk ontvang?” se antwoord is blatant: “GISTER!” Ons wag soms in die ry by ‘n bank, in die dokter se spreekkamer, in die verkeer, vir die kinders by die skool, vir die geboorte van ‘n baba, ‘n verhoging, ‘n geleentheid, by Binnelandse Sake, ensovoorts, ensovoorts. Geduld is veronderstel om ‘n positiewe eienskap te wees, maar wanneer tyd ons bestuur en ons beheer daaroor verloor het, of toegelaat het dat tyd met ons weghardloop, dan sukkel ons om stil te gaan staan en te besin. Dit is nie maklik om daardie verlore beheer terug te neem sonder om te wag nie.

Wie kry dit reg om te gaan stilstaan, asem te haal en te dink voor jy voort doen? Ai, die ongeduld hap aan ons hakskene en daarom hardloop ons terwyl ons teen die prikkels van geduld skop. Die konsep van “wag op die Here” is ‘n baie sentrale tema in die Bybel. Die presiese aantal kere wat die woord “wag” (as werkwoord of selfstandige naamwoord) in die Bybel voorkom, wissel natuurlik na gelang van die spesifieke vertaling. Dit kom egter in totaal in meer as 100 verse regdeur die Ou en Nuwe Testament voor. As 'n opdrag of uitnodiging: Om geduldig op God se tydsberekening en beloftes te vertrou, soos in Psalm 27:14, Psalm 37:7, en Jesaja 40:31. Alhoewel ons in ‘n kits-eeu leef waar sekere dinge met die druk van ‘n knoppie binne sekondes, minute of hoogstens ‘n uur hulle opwagting by ons maak, is daar genoeg bewyse dat wag deel van ons lewens is. Mag die onnodige gejaag na dinge wat ons siele nie voed nie, elkeen van ons tot stilstand dwing en herinner om te wag. Brou ‘n lekker warm pot koffie terwyl jy wag, asemhaal en weer vir God vra vir geduld, want die wag op ons Vader se tyd, sal altyd die moeite werd wees.

Voorblad van Koerania - Junie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar