
Waar begin ‘n mens om ‘n huldeblyk aan só ‘n spesiale mens te skryf. Haar eerste woorde aan my toe ek haar vier jaar terug ontmoet het was “Hallo, ek is Hannelie, die maatskaplike werker en ek doen nie politiek nie”. Dis presies soos sy was - op die man af, sonder fieterjasies en met ‘n diep siel. So het ons vriendskap afgeskop - sommer so, sonder pretensie. Hannelie is op 14 Augustus 1971 in Pretoria gebore en is Sondag, 4 Augustus 2024, na ‘n motorongeluk vroeër daardie week, oorlede. Sy het matrikuleer aan die Hoërskool Montana in 1989, en het ‘n Honneursgraad in Maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria bekom. Ten tyde van haar afsterwe was sy besig met haar Meestersgraad. Hannelie het een dogter, Juandri en het in Mei 2024 ouma geword van ‘n pragtige baba dogtertjie, haar “Bolletjie blom”. Hannelie en Hardus is op 21 Maart 2009 getroud en sy het toe nog drie kinders by gekry. In Desember 2019 het sy en Hardus na Orania verhuis waar sy as Maatskaplike werker by Orania Helpmekaar gewerk het. Sy het verskeie gemeenskapsprojekte geloods en was ‘n steunpilaar tydens die Covid-19 grendeltydperk. Sy is later as Bestuurder van Orania Helpmekaar aangestel. Sy het dié instelling omgeswaai in ‘n instelling wat hoop skep in ‘n gebroke wêreld. ‘n Groot mylpaal wat sy in Julie vanjaar bereik het was om Orania Helpmekaar as ‘n Kinderbeskermingseenheid te laat registreer. Dit is nie ‘n maklike taak nie en het meer as vier jaar geduur om te vermag. Hannelie het ‘n passie vir mense gehad en het altyd uit haar pad gegaan om weerloses te beskerm en om ‘n plan te maak vir dié wat maatskaplike nood ervaar. Sy het soveel mense se lewens positief aangeraak. Sy was werklik ‘n omgee mens met ‘n hart van goud en jy kon altyd op haar staatmaak. Sy was ook ‘n groot diereliefhebber en haar honde kinders het ‘n baie groot deel van haar hart besit. Sy het ‘n unieke sin vir humor gehad en ‘n aansteeklike lag wat almal om haar se dag opgehelder het - jy kon haar ‘n myl vêr hoor. Waar Hannelie gegaan het, het sy mense geken en mense het haar geken. Haar vriendskappe was eg en sy het moeite gedoen om met elkeen in kontak te bly, maak nie saak hoe vêr sy van hulle gewoon het nie. Familie was vir haar ‘n priotiteit en sy het ‘n hegte verhouding met elkeen gehad. Ons gaan Hannelie mis vir haar groot persoonlikheid, omgee hart en onbaatsugtige diens aan die Orania gemeenskap. Sy laat groot spore in ons dorp en in ons harte. Laat ons terugkyk na Hannelie se lewe en mag dit ‘n voorbeeld vir elkeen wees oor hoe om onbaatsugtig en met soveel omgee vir ander te lewe.




