← Kultuur

· Deur Dia van Staden

Haar kunsstories is soms modern, soms kitch

Louise de Klerk (58) woon in Vanderkloof, maar haar kuns kan haar na enige plek, seisoen of omstandighede voer.

Haar kunsstories is soms modern, soms kitch – foto 1

Louise de Klerk (58) woon in Vanderkloof, maar haar kuns kan haar na enige plek, seisoen of omstandighede voer. Van kleintyd af het sy altyd gesit en teken. Dit is dan geen wonder dat sy eintlik 'n argitek wou word nie. Haar ouers het aanbeveel dat sy eerder kommunikasiekunde as 'n studierigting kies. “Ek neem outomaties baie waar. Ek sal vir jou kan sê watter kleure op jou gesig sit. Baie mense is ongemaklik onder my blik, want ek kyk om te sien. Waarneming en praat is belangrik. Ek het 'n goeie visuele geheue. Ek soek nie drama wat my aandag aftrek nie,” noem Louise. “Wanneer ek vroegoggend in my ateljee instap dan besef ek dat die verf en paraffienreuk verslawend is. Dit voel soos 'n ekstra arm waarvan jy nie kan wegkom nie. Enige iets anders voel soos tydmors,” vertel Louise met 'n breë glimlag. Dié loopbaan het begin toe haar suster 'n kunsagent in Christiana aan haar voorgestel het, en tydens 'n bekende kunstenaar se uitstalling het Louise waagmoed aan die dag gelê en 'n paar wildlewe stukke van gemengde mediums voorberei. Sy het geen formele kunsopleiding nie, maar deursettingsvermoë skort beslis nie. Louise het agente genader en met verskeie mediums begin eksperimenteer en uitstallings gehou om die mark te toets. Agent, Juliana van Wyk, sorg dat Louise se werk in Johannesburg en die Kaap uitstalruimte kry en neem ook verantwoordelikheid vir die raamwerk. “Ek gaan juis nou by die Vryfees in Bloemfontein uitstal,” noem Louise. Louise verduidelik dat agente en gallerye die neigings van kopers ken en dra daartoe by dat verkoopstukke op die vloer geplaas word. “In 2008 het ek 58 skilderye per maand vir 'n agent gemaak en my werk is goed ontvang.” “Jou mark druk jou nogal in 'n rigting en dan doen jy wat die geld inbring.” As voltydse kunstenaar geniet sy dit om by ander kunstenaars te leer. “Die oorhoofse kostes is baie minder vir privaatuitstallings, maar jy kan jouself nie in die voet skiet nie, omdat die mark ook dikteer wat gewild is,” sê Louise. Sy beveel vir aspirant kunstenaars aan om die twee wêrelde van agente of privaat kunsuitstallings te verstaan. “Ek het iemand wat my sosiale media platform hanteer, want ek wil met my kwassies besig bly.” Aangesien agente se kostestrukture soms raamwerk, bemarking en ander oorhoofse kostes insluit, vergemaklik dit vir haar die administrasie. “Dit is nie vir my moontlik om te skilder en te bemark nie. Ek klok vroeg in by my ateljee en kan langer ure skilder. Ek werk op datums, want skoue is vasgestel. Jy moet beplan vir 'n skou of uitstalling sodat jy genoeg materiaal voorberei.” Louise beskou haarself as 'n opportunis, want sy soek altyd 'n geleentheid en dit hou haar op haar tone. “In alle aspekte van die lewe is jy nooit te oud om te leer nie. Jy leer van enige persoon. Jy kompeteer met jouself en daar is altyd ruimte vir verbetering, want ek wil nie stagneer nie,” borrel Louise. Dit is vir haar heerlik om haar eie ding te doen. Sy het 'n gallery by die Monte Crous Hotel in Vanderkloof begin. Louise het altyd 'n groot verskeidenheid mediums getoets, maar haar gunsteling tema is die een waarmee sy in die oggend wakker word. “Blomme is vir my lekker om te verf, want ek doen dit nie elke dag nie.” Sy vertel dat sy vir lank nie figure gedoen het nie, maar die Weskus se natuurtonele was volop. Eenvoudige voorwerpe wat sy sien kan 'n skildery aanwakker. Cartoons is kreatief en vang die waarheid vas. “Jy kan daarmee 'n ernstige onderwerp aanspreek en niemand raak kwaad nie.” Haar muurskilderye is op 'n paar plekke in die omgewing sigbaar. Sy werk selfs met bousand en kouelym. Sy gebruik akriel vir mure omdat dit minder mors en kleure solied maak. Om soms buite die ateljee te werk is vir haar lekker. Sy kry elke dag kritiek van handelaars en sy besef dat dit gedeel word om albei se besigheid te versterk. “Suck it up,” is haar raad. Kritiek help haar om nie ou foute te herhaal nie. Ouderom het geen invloed op haar kuns nie. “Ek wil skilder tot ek rerig nie meer kan sien of hande het nie. Ek wil skilder tot ek omval.” Sy geniet tuinwerk, lees, brei, hekel en is 'n diereliefhebber. Sy sorg al jare vir die straatkatte van Vanderkloof. Nuwe plekke bring inspirasie. Sy het waardering vir ou meesters se werk. Indien sy 'n laaste opdrag sou moes verf sou sy 'n seetoneel wou skilder. As sy dieper sou delf sou dit wees wat sy op daardie oomblik voel. Sy is baie lief vir haar kinders en familie, en die finale kunswerk sal meer persoonlik van aard wees. “Iets waaraan die familie waarde sal heg.” “Ek gaan nooit die perfekte skildery maak nie, maar ek strewe daarna,” sluit die energieke kunstenaar af.

Haar kunsstories is soms modern, soms kitch – foto 2
Voorblad van Koerania - Julie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2025, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar