
Dit is maar ‘n siekte van die mens om te wag vir ‘n groot geleentheid of ‘n belangrike verhouding of ‘n seisoenverandering voordat daar gedink word aan ‘n meer gesonde leefstyl. Ons sukkel bietjie daarmee dat dit iets is wat ‘n ingesteldheid behoort te wees. Dit is eerder ‘n besluit, wanneer die tyd reg is… Ons begin mos Maandag met die dieët? Of hoe? ‘n Liewe geloofsvriendin herinner my onlangs dat ek minder soos Martha van die Bybel moet wees en meer soos Maria. Sy weet dat ek ‘n effense beheervraat is en “ek sal self” ‘n groot deel van my menswees en vrouwees uitmaak. Dit is vir my baie moeilik om hulp te vra, selfs van God die Vader. Want “Hy verwag van my om my deel te doen, dan sal Hy sy deel doen…” My vriendin wou toe weet hoe ek dink God my vir ‘n getuienis kan voorberei as ek meeste dinge SELF wil doen? Dit het my neurologie laat spartel! Nou is die vraag: Wanneer laat ek God toe om oor te neem en wanneer hou ek aan doen? Dit bring my terug by hoe ons met ons liggaam en gesondheid werk. In my geval is dit genade as ek verby die sjokolade kan loop sonder om ‘n ietsie kleins, sonder om twee keer te dink, in die waentjie te laai. Vir ander is dit ander soorte suiker, drank, dwelms, energiedrankies of sigarette wat ‘n afhanklikheid geword het. Het ons nie maar elkeen ‘n skuldige plesiertjie nie? Ons weet dat ons liggame die tempel van God is. Waarom stoei ons dan so daarmee om dit te eerbieding en respekvol te hanteer? Daar die plesiertjie kan elkeen van ons duur te staan kom! Ja, ons is in sonde gebore en het almal voete van klei, maar iewers is daar binne elkeen van ons ‘n skakelaar wat na “normaal” teruggedraai kan word om vir die regte redes beter besluite vir ons gesondheid te neem. Mag jy jou skakelaar gouer as later ontdek en mag jy die genade ontvang om verby die ongesonde opsies te stap en jou gesondheid as ‘n prioriteit te erken. Moeilik, maar MOONTLIK! Ek gaan gou ‘n koppie kookwater en suurlemoensap skink, want skoon moet die derms skoon en ek beter uitvoer wat ek hier preek. Onthou om ook vir dié slukkies genade te bid! Skink iets warm en gesond, want dit is koud buite!




