← Gemeenskap

· Deur Wynvlieg Woltemade

Die Wynvlieg waai in: Geloftedag en die Afrikaner se superpower – Desember 2025

As daar een ding is wat die Afrikaner beter kan doen as enige ander volk, is dit onthou.

As daar een ding is wat die Afrikaner beter kan doen as enige ander volk, is dit onthou. Ons onthou groot dinge– oorloë, gelofte, geskiedenis- maar ons onthou ook die klein goed: wie laas koffie betaal het, wie die wors omskep het in 'n houtskoolstok, wie op die kerkbasaar by die koektafel instorm, en wie in 1987 op die skoolbus die verkeerde tannie “Ma” genoem het. Dis nie wrok nie, hoor. Dis rekordhouding. Dis in die bloed, soos braaivleisrook en skaapvet. In Orania voel 'n mens dit sterker. Hier leef herinnering nie net in museums nie, maar in mense se hande: in hul bouwerk, hul selfstandigheid, hul erns. En op Geloftedag word daardie superpower skielik tasbaar- soos 'n stilte wat anders val, 'n son wat helderder brand, 'n volksgevoel wat voel soos 'n warm plaasbrood onder die handdoek. Ek kyk hoe families stadig aanstap, hoe kinders vrae vra waarvan die antwoorde swaar is, en hoe ooms met diep asemteue begin sin maak van die verlede. Dit raak jou, al is jy maar net 'n vlieg op 'n muur. Of in my geval;op 'n vlagpaal. Want Geloftedag is nie net 'n datum nie. Dis die Afrikaner se jaarlikse geheuetoets: Onthou jy waar jy vandaan kom? Onthou jy hoekom jy bou? Onthou jy hoekom jy aanhou? Die mooi deel is: Orania onthou nie net vir die tradisie nie - hulle onthou om iets daarmee te doen.

Die selfdoen-kultuur, die netheid, die gees van “moenie wag vir 'n komitee nie, vat net 'n graaf”. Dít is herinnering in aksie. 'n Volk wat besluit het om nie net oor erfenis te praat nie, maar dit te bou, baksteen vir baksteen. Maar, en ek sê dit met liefde,- die Afrikaner onthou soms té goed. Ons onthou wie die laaste druppel melk gebruik het. Ons onthou watter tannie op die Koeraniafunksie gesê het sy hou nie van jou kerriehoender nie. Ons onthou watter dominee in 2003 te lank gepreek het. Ons dra die mooi en die mors saam, presies ewe getrou. Maar op Geloftedag gebeur iets skaars: die onthou raak sagter. Die kake ontspan. Die harte word effens groter. Die rekordboekie word, vir 'n kort rukkie, toegeklap. En dit laat 'n vliegie soos ek dink: dalk is onthou nie net om terug te kyk nie, maar om vorentoe te kyk, vir die volgende geslag wat nog nie hul eie hoofstuk het nie. En tog, soos die laaste son op die monument val, hoor ek iemand fluister: “Onthou jy verlede jaar se Geloftedag? Dit was warmer.” Daar's die volk wat ek ken. Ek's Wynvlieg Woltemade. Ek sit op 'n warm klip by die monument, luister hoe die volk onthou, en fluister terug: Onthou mooi, onthou lig, en moenie vergeet om nuwe dinge te maak om eendag oor te onthou nie. En natuurlik, ek memoreer ook: die tannie wat my met haar Bybelpampier probeer doodslaan het; dis ek wat haar nooit sal vergeet nie.

Voorblad van Koerania - Desember 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Desember 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar