← Kultuur

· Deur Dia van Staden

Gedrukte media druk nie deur nie

Caxton het jare gelede erkenning gegee aan 'n joernalis of medewerker wat gedrukte koerante aangewend het om onderwys en opvoeding te bevorder.

Caxton het jare gelede erkenning gegee aan 'n joernalis of medewerker wat gedrukte koerante aangewend het om onderwys en opvoeding te bevorder. Dit is Print Media in Education (Gedrukte media in die onderwys) genoem. Ek het iewers in die vroeë 2000's in die top 3 van daardie afdeling geëindig. “Geëindig” lui skielik anders in my ore. Die einde van die gedrukte formate van Rapport en Beeld kondig 'n hele paar eindes aan. Op Facebook se Nagkantoor-groep is daar 'n geween en gekners van tande oor die einde van gedrukte koerante. Dié groep bestaan hoofsaaklik uit oud-joernaliste of akademici wat by mediasake betrokke is of was. Van die insette vroeg in Januarie 2025 het as volg gelui: · HELP! – Ek het erge onttrekkingsimptome! Ek soek my koerant, my nuus wat op papier gedruk is. Dit is glad nie lekker om 'koerant' te lees op 'n klein en/of groot skerm nie. Dit is totaal onpersoonlik. · Hierdie is 'n aanslag op Afrikaans niks met papier of digitaal te make nie, net so terloops die daily China lê nou op die beeld se plek...Dit voel nie eers soos Sondag sonder die papier koerant nie. · My arme pa van 84 het ELKE dag sy koerant gelees. Hy is totaal verlore op die oomblik. Hy ken glad nie tablets of rekenaars nie. Ek kry hom SO jammer. · Toiletpapier is nie so duur nie! Die een wat my aandag dadelik getrek het was 'n bydrae deur 'n ene mnr Pienaar: “Die koerant was deur die jare heen die arm man se universiteit.” Dit was juis die doel van Gedrukte media in die onderwys. Koerante was so 'n betroubare bron waar feitelik korrekte inligting en kwaliteit taalgebruik, Afrikaans en Engels, met volle vertroue aangewend was om enige skoolvak kreatief, interaktief en effektief aan te bied. Dit was 'n poging om kinders aan koerante, nuus, gewaarborgde feite, wiskunde, finansies en goeie taalgebruik bloot te stel. Dit is veral in landelike skole met sukses aangewend, aangesien daar nie altyd toegang tot handboeke was nie. Hennie van Deventer is 'n oud-redakteur en bekende koerantman wat op 5 Januarie die volgende plasing op Facebook maak: VOORBLADNUUS MINUS 'N VOORBLAD Rapport in sy nuwe digitale gedaante is Sondag 12 Januarie met ons. Tot dan moet 'n mens maar jou ongeduld beteuel. Vanoggend was ek egter maar verlore; die dag sonder ritme en die roetine omvergewerp. Natuurlik wemel dit van die foto's op die sosiale media, maar dis mos nie dieselfde as met verbeeldingryke tipografie op papier aangebied nie. Voorbladnuus minus 'n voorblad - dis maar nie lekker nie. Koerania word ook hoofsaaklik digitaal by www.koerania.co.za en as PDF aangebied, maar die gemeenskap van Orania word intekenaars omdat hulle 'n papierkoerant wil vashou, lees en ervaar. Lank lewe betroubare nuusbronne!

Voorblad van Koerania - Februarie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar