
Dié KI-kunstenaars op FAK-Skryf’it-paneel Die gewilde kunstenaars Jakkals Vibes en Blixim Straat, wat die musiekbedryf behoorlik op sy kop gekeer het en wie se liedjies vandag ’n stewige staanplek op treffersparades en radiospeellyste beklee, is twee van die kundige beoordelaars van vanjaar se FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie. Dié twee baanbrekers sal spesifiek die inskrywings in die splinternuwe kunsmatige intelligensie (KI)afdeling van FAK-Skryf’it onder die loep neem. Met dié nuwe kategorie verbind die FAK hom tot die verruiming van die Afrikaanse musieklandskap deur die innoverende en verantwoordelike versmelting van hart en hardeskyf. Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie het verlede jaar op ’n hoë noot afgeskop met meer as 580 inskrywings. Sommige deelnemers is egter weens die gebruik van KI gediskwalifiseer. Dit het die FAK genoop om vanjaar se kompetisie te herbedink en ’n vernuwende rigting in te slaan. Pleks daarvan om KI te verbied, word ruimte vir dié skeppings nou in ’n afsonderlike afdeling geskep. “Ons glo dit is ’n belangrike stap vorentoe vir Afrikaanse musiek,” sê Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte en die dryfkrag agter Skryf’it. “Met die toenemende rol van kunsmatige intelligensie in kreatiewe prosesse, bied hierdie afdeling aan deelnemers die geleentheid om dié betreklik nuwe landskap te verken en hul skeppingsvermoë op unieke maniere te ontwikkel.
KI ’n hulpmiddel, nie ’n kunstenaar Jakkals Vibes, wat steeds sy lirieke self skryf en bekend is vir sy vars benadering tot musiek en digitale platforms, bring waardevolle insig na die beoordelaarspaneel. Hy is die eerste KI-kunstenaar wat met sy treffer “Heeltemal stom” Maroela Media se top-20-trefferslys gehaal het. “KI is ’n hulpmiddel, nie ’n kunstenaar nie,” sê Jakkals Vibes. “Die emosie, die storie en die bedoeling agter ’n lied bly die belangrikste elemente.”
Hart van storievertel Müller sê dit is presies wat die KI-afdeling van Skryf’it beoog. “Ons wil deelnemers aanmoedig om tegnologie verantwoordelik en kreatief te gebruik. Hierdie afdeling skep ’n ruimte waar jong skeppers met nuwe klanke, strukture en idees kan eksperimenteer, terwyl hulle steeds hul eie stem en identiteit ontwikkel. Deelnemers word aangemoedig om nie net op tegniese vermoëns staat te maak nie, maar om oorspronklikheid en inhoud te prioritiseer. “Ons hoop om ’n nuwe generasie liedjieskrywers te inspireer om grense te verskuif en die Afrikaanse musiekbedryf te verruim. Deur gevestigde kunstenaars en nuwe tegnologie saam te bring, word ’n dinamiese ruimte geskep waar tradisie en innovasie hand aan hand kan ontwikkel,” sê Müller. Die hart van musiek bly onveranderd, sê hy. “Om stories te vertel, emosies te deel en mense bymekaar te bring deur oorspronklike lirieke, bly die kern van die kompetisie. Met die hulp van kreatiewe hulpmiddels soos KI – en die leiding van ervare beoordelaars – kry deelnemers aan FAK-Skryf’it die geleentheid om hul stem op ’n nuwe en opwindende manier te laat hoor. “Skryf eers sonder KI,” sê Jakkals Vibes. “Bou jou fondasie: lirieke, tema, emosie. Gebruik KI daarna as ’n instrument, nie as ’n bron van waarheid nie. As jou identiteit nie duidelik is nie, gaan alles wat jy maak, dieselfde begin klink. Jou stem en storie moet die anker bly.” Hy verklap ook waarna hy spesifiek in die KI-afdeling gaan kyk. “Die idee en emosionele impak dra die meeste gewig. Tegniese vernuf is maklik om met KI te bereik; dit is nie meer ’n onderskeidende faktor nie. Wat saak maak, is of die lied iets sê, of dit bly hang en of dit eg voel – ongeag hoe dit vervaardig is.”
Bewuste fokus op kreatiwiteit Pieter Daniel Groesbeek, beter bekend as Blixim Straat, het op sy beurt die afgelope twee jaar bekendheid verwerf vir die vernuftige manier waarop hy KI-klanke gebruik om sy uitdagende en komiese lirieke tot lewe te bring. In November verlede jaar was sy liedjie “Sy is op haar mooiste in my geskeurde T-shirt” heel bo-aan Spotify se Viral 50 in Suid-Afrika.
Krag in emosie, eerlikheid Hy is daarom baie positief oor die KI-afdeling van Skryf’it. “Sulke platforms kan jong kunstenaars leer om tegnologie verantwoordelik en kreatief te gebruik,” sê hy. “In plaas daarvan om KI as ’n bedreiging te sien, kan dit eerder ’n hulpmiddel wees wat tradisionele liedjieskryf aanvul. Hierdie samevloeiing van oud en nuut het die potensiaal om die Afrikaanse musieklandskap verder uit te brei en te vernuwe.”
Vir deelnemers wat KI wil gebruik, beklemtoon hy egter die belangrikheid van egtheid. Sy raad is eenvoudig: “Begin altyd by jou eie storie, jou eie emosie en jou eie perspektief. “






