← Sake

· Deur Dia van Staden

Eerste ekonomiese beraad werp lig op toekomsplanne

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy het op 21 Maart tydens die Ekonomiese beraad ‘n 5-puntplan bekendgestel.

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy se ekonomiese groeimodel dui op die uitdagings en geleenthede om suksesvol te wees.
Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy se ekonomiese groeimodel dui op die uitdagings en geleenthede om suksesvol te wees.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy het op 21 Maart tydens die Ekonomiese beraad ‘n 5-puntplan bekendgestel. Hy is ernstig daaroor dat besighede en individue ‘n Ingesteldheid van onderneming moet inneem. “Alfa faktore is belangrik, neem verantwoordelikheid op jouself deur goeie ekonomiese kultuur te onderhou,” sê hy. Die 5 fokuspunte vir versnelde ekonomiese groei is as volg: 1. Tersiêre en beroepsopleiding 2. Belegging in aftreegeriewe en bejaardesorg 3. Die Stadsboufonds vir die ontwikkeling van infrastruktuur 4. Eendracht Beleggings as voertuig vir belegging en ontwikkeling 5. ‘n Ontwikkelingskantoor met fokus op ruimtelike beplanning en ontwikkeling, belegging en ekonomiese ontwikkeling deur die ondersteuning van bestaande besighede en die vestiging van nuwe ondernemings. Verskeie sprekers is genooi om deel te wees van die aanbiedings onder spesifieke temas. Susan Nieuwoudt, hoof van die Orania CVO-skool vertel dat die koshuis tans te klein is, maar dat beplanning dit toelaat om in die toekoms te verseker dat CVO ‘n tuiste vir kinders van ver gebiede word. “Ons is ‘n waardegedrewe skool en wil diensbaar vir die gemeenskap wees,” het sy vertel. Paul Vogel, uitvoerende hoof van Bo-Karoo Opleiding vra die vraag: “Waar kom ondernemers vandaan?” Hy verduidelik dat mense wat goed toegerus is deur inligting die ekonomie laat groei, want jy stel hul in staat om te werk. Daar vloei jaarliks nuwe studente die dorp in en hul ouers raak betrokke in die dorp. Dit vorm deel van die toekomstige werkersmag in die dorp en hy noem dat studente kom omdat ondernemings en ‘n gemeenskap betrokke is. Fanus Becker, besigheidseienaar het tydens die paneelbespreking gesê: “In moeililke tye moet mens buitengewoon innoverend wees. In maklike tye mors jy soms jou kapasiteit.” Na afloop van die beraad het hy aan Koerania vertel dat die beraad ‘n goeie geleentheid was om verskillende gedagtes op die tafel te kry. “Ons moet van niks iets maak. Tang en draad is belangrik, want jy begin met niks. Ons moet ons eie liga begin en nie in iemand anders se liga probeer speel nie. Dit kan dalk wees dat al meer vrymoedigheid ontstaan om na mekaar te luister en mekaar beter te hoor. Kruisbestuiwing kan plaasvind sodat daar vrug kan wees.” Entrepreneur, Willie Steenkamp, sê tydens sy spreekbeurt: “Ons moet die regte standaarde stel vir mense wat ons wil betrek. As ons arbeid nie reg is nie, skep ons probleme op langtermyn. Ons bou reeds – 50 000 is ‘n bestemming nie net ‘n droom nie.”

Gerhard Strauss is in die konstruksiebedryf. Hy het die beraad geweldig opbouend beleef. “Dit help ‘n sakepersoon om beter te beplan as jy ‘n idee het wat die voorlopers mee besig is.” Hy beskou die ekonomiese navorsing wat reeds gedoen is, voeg waarde tot elkeen se keuses toe. Hou Koerania dop vir verdere ekonomiese inligting wat voortaan met lesers gedeel sal word. Kontak vir Werner Fourie by werner@ontwikkelorania.co.za indien jy enige voorstelle het wat ekonomiese groei sal bewerkstellig.

Karin Bain en André Coetsee het as sprekers opgetree en Gerhard Strauss het die beraad bygewoon.
Karin Bain en André Coetsee het as sprekers opgetree en Gerhard Strauss het die beraad bygewoon.
Fanus Becker, Willie Steenkamp, Elna Wahl en Riaan Jacobs het deel gevorm van ‘n paneel wat sekere aspekte van Orania se ekonomiese volhoubaarheid bespreek het.
Fanus Becker, Willie Steenkamp, Elna Wahl en Riaan Jacobs het deel gevorm van ‘n paneel wat sekere aspekte van Orania se ekonomiese volhoubaarheid bespreek het.
Frans de Klerk
Frans de Klerk
Werner Fourie
Werner Fourie
Christo Conradie
Christo Conradie
Voorblad van Koerania - April 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2026, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar