
Op 23 Junie 1905, vanjaar 120 jaar gelede, verskyn 'n gedig, “Winternag”, in die koerant Land en Volk. Die stigter en redakteur van die koerant was Eugène Marais; hy was ook die digter van “Winternag”. “Winternag” verskyn in 'n tyd toe die Tweede Afrikaanse Taalbeweging na die Anglo-Boereoorlog begin momentum kry. Die gedig word beskou as die eerste letterkundig betekenisvolle gedig in Afrikaans en 23 Junie 1905 word beskou as die mondigwording van Afrikaanse poësie. Op Saterdagaand 21 Junie 2025 het die FAK se Kaapse kantoor 'n geleentheid by die Othelloaftreeoord in Brackenfell aangebied om die lewe van Eugène Marais en “Winternag” se 120ste bestaansjaar op 'n besondere wyse saam met die bekroonde aktrise en rolprentmaker Katinka Heyns te vier. In 2012 word die rolprent, Die Wonderwerker, met Chris Barnard as draaiboekskrywer en Katinka Heyns as regisseur, vrygestel. Die rolprent handel oor die tyd in Eugène Marais se lewe toe hy in 1908 op die plaas Rietfontein in die Waterberge by die Van Rooyenfamilie ingewoon het. Katinka gesels oor 'n besoek aan prof. Erik Holm wat destyds daartoe gelei het dat sy en haar oorlede man, Chris Barnard, die rolprent oor Eugène Marais se lewe gemaak het. Sy vertel van die soek na 'n mak bobbejaan wat in die rolprent gebruik is, oudisies en rolverdelings en die ooreenkomste in gelaatstrekke tussen Eugène Marais en Dawid Minnaar wat die hoofrol in Die Wonderwerker gespeel het.
Na 'n gesellige saamkuier met 'n koppie koffie of tee en gesprekke met Katinka, neem almal weer hul plekke in en kyk ons almal saam die rolprent Die Wonderwerker. Die rolprent boei die gehoor, en so af en toe is daar 'n spontane gelag vir komiese insidente of kwinkslae in die storie. Op my vraag of Erik Holm destyds tevrede was en van die rolprent gehou het, antwoord Katinka, “Hy was in trane.” Katinka Heyns se eie terugvoer na 'n heerlike aand van samesyn met Afrikaanse digkuns en rolprent was: “Baie, baie dankie vir Die Wonderwerker-geleentheid. Dis die eerste keer wat ek objektief kon kyk en ek het dit baie geniet!” By die Silwerskermfees in 2012 is Die Wonderwerker met ses toekennings bekroon: Beste film; Beste regisseur – Katinka Heyns; Beste draaiboek – Chris Barnard; Beste redigering –Ronelle Loots; Beste aktrise – Elize Cawood en Beste vroulike byspeler – Sandra Kotzé. Die bekende rolprentresensent, Leon van Nierop, het van Die Wonderwerker gesê: “So 'n meesleurende, beeldskone en aangrypende Afrikaans rolprent sien jy dalk net een maal per jaar. Die Wonderwerker moet ten alle koste gesien word.”




