← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Die waarde van ons werk – Julie 2025

Die vraag: 'Wat is ons werk werd?' is nie so eenvoudig om te antwoord nie.

Die waarde van ons werk – foto 1

Die vraag: 'Wat is ons werk werd?' is nie so eenvoudig om te antwoord nie. Ons is gewoond daaraan dat ons werk in geldwaarde geskat word. Hieroor handel ons nie nou verder nie, alhoewel dit belangrik bly hoe 'n mens ekonomiese waarde van werk bepaal. In die Bybel word werk en rus aan mekaar verbind. Voordat die beveel oor werk kom, stel God eers dat die mens moet dink aan rus. In die Hebreeuse woordvolgorde staan: 'Dink aan dié dag van rus om dit te heilig' (Eks. 206). Dan volg daar drie woorde waarmee God die omvattende idee van werk beskryf: 'Ses dae moet jy arbei en doen al jou werk. (weer volgens die letterlike volgorde). Ons leer hieruit dat 'werk' eintlik drie elemente het. Die woord arbei kan dui op slawediens of op 'n kind wat sy vader dien, die woord doen beteken effektief afhandel en die woord al jou werk dui op 'n koninklike posisie waar na die Goddelike bedoeling van jou lewe en werk verwys word. Wat is 'n gemeenskap se werk? Ons is so oorspoel die laaste paar dekades met liberale idees, ook oor werk, dat ons begin dink het werk gaan eintlik net oor een mens se werk. Natuurlik is die indivduele kant belangrik, maar die Bybel is baie duidelik daaroor dat God ook 'n werk het vir gemeenskappe. 'n Volk het ook 'n werk van God gekry. Trouens, God is so ernstig hieroor dat Hy die volke selfs voor die tyd waarsku dat volke in die gerig voor God sal staan daaroor. Volke sal geoordeel word of hulle die werk, die roeping, wat hulle van God ontvang het, effektief afgehandel het, terwyl hulle sy rusdag, wat die ewige rus, insluit, ingedagte gehou het. Ook ons as volk, as Orania gemeenskap moet hierdie waarskuwing van God weer ernstig opneem. Hy bedoel wat Hy sê:

“... Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.” (Ps. 98:9). Leef is meer as oorleef 'n Gemeenskap, 'n volk het dus ook 'n taak om voor God se aangesig uit te voer op aarde. 'n Volk het beslis 'n roeping voor God. Om as 'n gemeenskap te bestaan en bewus te wees van jou werk wat God van jou verlang, behels méér as net oorlewing. Ons op Orania wil in goeie en swaar tye dit altyd voor oë hou. Ons is gered in Christus om te leef, nie maar net om te oorleef nie. Dit stel ons groot voor lewenstoetse – om te volhard én om nuwe dinge aan te pak. Ons werk voor God se aangesig is nog lank nie afgehandel nie, ons het 'n lieflike toekoms wat wag – juis omdat ons 'n roeping het om te vervul. Die grootste uur van ons volk se lewe lê nog voor ons. Daarom mag ons nie oorgee aan moedeloosheid of aan selfsug nie. In elke gemeenskap wat in 'n krisis kom, word hierdie lewenstoets aangelê: wat is die waarde van ons lewenswerk? 'Waarde' word deur baie mense bereken bloot as wat iets vir jou persoonlik iets werd is, en dan nog baie keer net in geldwaarde. Ons sal moet leer om meer van ons lewe te dink as dit. Natuurlik is geldwaarde belangrik, maar die punt hier is dat die hele lewe baie meer bevat as net geld waarde. Wat maak ons lewe en ons werk sinvol? En ons vra hierdie vraag spesifiek as “óns vraag”. Wat maak ons werk in Orania sinvol? Wat gee betekenis aan wat ons doen? Wat is die blywende waarde van dit waarmee ons besig is? Hoe dra ek by dat ander mense waarde in hulle lewe belewe? Werke vernietig Die Here waarsku en troos die Afrikaner op Orania. Die waarkuwing is iets verskrikliks. 'n

Volk kan heeltemal verniet werk en homself moeg maak vir niks. Al 'n volk se werke kan vernietig word. Sonder geloof in Jesus Christus, sonder ware bekering en die doop met die Heilige Gees eindig 'n mens, en ook 'n volk, se werk in die vuur. Laat ons dit ter harte neem wat God in Jer. 51:58 sê: “So sê die Here van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.” Laat ons in en vanuit Orania nooit moeg word om ons vir 'n Christelike republiek te beywer nie, want sonder Christus, die Rots, is jou werke vir die vuur bestem. Werke volg met ons In die Here Jesus Christus vind ons die troos en vooruitsig dat ons werke nie verniet is nie, maar ewigheidswaarde verkry. Werke wat in egte geloof gedoen is, gebou is op die beloftes en bevele van die Here, en vervuld met die Heilige Gees uitgevoer word, is nooit verniet nie. So belowe die Here ons in Openbaring (14:13): “En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf, salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” Laat ons in Orania 'n baie diep troos hieruit put. As ons deur die geloof in die Here Jesus Christus lewe, is ons werke nie sinloos nie. Inteendeel, ons werke sal ons volg die dag as ons dood is en voor die Here verskyn. Wat is die waarde van 'n volk se werk? Dit is veel meer as geldwaarde. Dis geloofswerke wat ewigheidswaarde verkry. Laat ons die geloofsmoue oprol. Ons werk nie om gered te word nie, ons werk omdat ons reeds in Christus gered is. En dit maak ons werke betekenisvol, vir nou en later en vir ewig.

Voorblad van Koerania - Julie 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Julie 2025, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar