← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Die waarde van ons taal: taal maak oop – April 2025

Taal is openbaring. Taal maak oop, taal wys iets aan en wys iets uit.

Die waarde van ons taal: Taal maak oop – foto 1

Taal is openbaring. Taal maak oop, taal wys iets aan en wys iets uit. Taal is meer as blote kommunikasie. Die meeste taalteorieë gebruik op een of ander manier die volgende definisie: taal is kommunikasie tussen mense. Natuurlik is dit so, maar as Christene leer die Bybel ons baie meer. Taal as openbaring Taal is ten diepste openbaring. Openbaring is bekendmaking. Die heel eerste bladsye van die Bybel trek ons aandag hieroor. In Genesis 1:3 staan dat God deur taal skep: “En God het gesê: 'Laat daar lig wees'. In Johannes 1:1 staan die bekende uitspraak: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.” God maak Homself bekend deur taal, deur sy skeppingstaal en deur die taal van sy Woord, sy Seun Jesus Christus. God se openbaringstaal, sy Woord, het 'n mens geword van vlees en bloed. Ons kan dus sê dat God deur die natuur en Skriftuur Homself bekendstel. God se taal is openbaring van Homself. Diere se name Die Bybel leer ons ook dat die mens na die beeld en gelykenis van God gemaak is. Die mens het ook daarom die vermoë om te kan praat. Die mens se taal is ook openbaring. Deur die mens se taal wys ons wat snap ons van God se taal. Die eerste mens, Adam, ontvang sy naam van God self. Dit is duidelik dat God en die mens met mekaar praat in die tuin van Eden. Die Here sê nie alles vir die eerste mens nie. Daar is dinge wat God wil hê die mens, Adam, moet in sy eie woorde omsit. Ons lees dat die Here die diere na Adam toe gebring het “... om te sien hoe hy (Adam) hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.” (Gen. 2:19). Vrou se profetiese naam Toe Adam al die diere hulle name gegee het, kom hy iets agter. Daar is nie een wat by homself pas nie. Tog weet hy dat God self gesê het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie (Gen. 2:18). God laat toe 'n diepe slaap op Adam val, en bou uit sy rib 'n vrou en neem haar na Adam toe. God gee nie self vir hierdie vrou haar naam nie. Toe Adam haar sien, word hy baie bly want hy sien in haar God se voorsienende liefde raak. Adam gee toe vir haar haar eie naam. “Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.” Met hierdie naamgewing profeteer Adam oor en vir sy vrou voor God. Hy verklaar aan haar en oor haar wat haar unieke en wonderlike posisie voor God is. Sy beantwoord aan God se Woord toe Hy gesê het: “Ek sal vir hom (Adam) 'n hulp maak wat by hom pas.” (Gen. 2:18). God se goedheid kom na vore in God se taal. Hy maak vir Adam 'n pasmaat. Adam se taal antwoord op God se Woord. “Sy sal Mannin genoem word.” Hierin profeteer Adam oor sy vrou se wonderlike roeping, sy moet met haar lewe en optrede die liefdevolle goedheid van die Here na vore laat kom. Sy moet openbaar maak dat God goed is. Adam se naamgewing openbaar dat Hy God se taal snap en God se bedoeling insien. Vul en vermeerder Beide die man en die vrou is na die beeld en gelykenis van God geskep. Elkeen afsonderlik kan nie die volle heerlikheid en goedheid van God bekendstel nie. Die man het die vrou nodig om volledig man te wees en die vrou het die man nodig om volledig vrou te wees voor God. Dit is God se openbaringstaal. Die menslike taal moet aantoon dat ons die Woord van God ken en aanvaar. Die Here seën hierdie eerste paartjie en sê dat hulle vrugbaar moet wees, moet vermeerder en die hele aarde moet vul. Die Here maak bekend dat sy heerlikheid oor die hele aarde moet versprei deur die mense. So staan dit in Psalm 72:19: “En laar die hele aarde met sy heerlikheid vervul wees.” Taal volk en grond Die Here laat die mense versprei oor die aarde deur 'n indeling te doen volgens taal. “...uit hulle het verdeel geraak die kuslande van die nasies, hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.” (Gen. 10:5, Deut. 32:8 en Hand 17:26). Na die sondeval beweeg al die volke weg vanaf God en verval in afgodery. Die Here se heerlikheid word daardeur verberg en nie meer deur die mens bekend gemaak nie.

Met die koms van Jesus Christus, die Woord van God, word nie net enkelinge nie, maar ook volke weer teruggeroep na God – sodat hulle die Here kan soek en sy heerlikheid kan openbaar. Dit gebeur veral deurdat die Vader en die Seun die Heilige Gees uitstort. Daardeur raak God direk weer die tale aan en aktiveer Hy die volke sodat sy heerlikheid ten volle oor die aarde kan versprei. Om hierdie rede staan daar in Hand 2:11: “ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.” Op Orania praat ons ons eie taal. Ons taal moet openbaar dat ons God se taal, sy openbaringsbedoeling, insien en verstaan. Die bedoeling van ons taal is ten diepste om die groot dade van God bekend te maak. Taal is openbaring. Ons het 'n nuwe taalbeweging nodig om God se openbaring oor taal, volk en grond, weer opnuut bekend te stel. 'n Volk het grond nodig. God skenk aan sy kinders ruimte om Hom te aanbid. Ons op Orania behoort die voortou te neem en dìt met ons eie taal bekend te maak: God bind taal, volk en grond aan mekaar. Ons volk kort grond, want God se heerlikheid vereis dit. Sonder eie grond bly die heerlike Naam van God oor 'n groot deel van ons mense ingeperk. Vryheid gaan oor aanbidding, op die aarde en in die hemel. Tale sal selfs in die hemel nog gehoor word. Dit moet die taal van ons bevryding in Christus wees. Ons is ook bevry van volkssondes wat ons taal en God se heerlikheid van mekaar skei. Dit moet ons bekendmaak op Orania – dat God self ons vrygemaak het – en dit sluit gronderuimte in.

Voorblad van Koerania - April 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2025, bladsy 6

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar