
dr Wikus Buys Ons hoor nogal gereeld die woord soewereiniteit. Dit is waar die aanspraak gemaak word van oppermag en alleenheerskappy. Deesdae is state ook gou om te meld dat hulle ‘soewereine state' is en geen inmenging of voorskrif in hulle staatsake sal duld nie. ‘n Goeie voorbeeld is onlangs die uitsprake van die Suid-Afrikaanse staat (RSA) oor die uitsprake van die VSA se president, Donald Trump. Die boodskap is uitgebasuin: ‘Ons is soewerein en sal ons nie laat voorskryf nie’. Dis egter nie net state wat so maak nie, mense tree ook so op, al sou die woordjie ‘soewerein’ nie eers deel van hulle woordeskat wees nie. Dit is wanneer iemand dink en doen asof hy alleen oor dinge kan besluit. Die redenasie is: ek het die reg om self te besluit wat ek wil en gaan doen. So iemand sê met sy eie optrede: ek is soewerein. Hierdie neiging om as individu self oor alles te wil besluit kom eintlik van die Franse Rewolusie af. Daar het die Franse hulle koning, Louis XVI, wat beweer het hý is soewerein, se kop laat rol. ‘n Nuwe slagspreuk het mode geword: ‘Geen God en geen meester nie’. Hierdie idee van die Franse Rewolusie dat die massa mens self soewerein is, is waarmee ons nou nog alledaags mee te doen kry. Die mens wat sê: ek is oppermagtig en het alleenheerskappy. Alle mag aan Jesus Christus gegee Gelowiges kan nie neutraal staan teenoor hierdie aanspraak nie. Immers, ons hele lewe word daardeur diep geraak. Dink maar tans aan die al die dinge wat die Suid-Afrikaanse staat (RSA) beweer hulle oor ‘n sê het in ons lewe. Christene erken dat daar so iets bestaan soos oppermag en alleenheerskappy. Ons Here Jesus Christus het ons dit self geleer. In Mat 28:18 het die Here Jesus
Christus ‘n allesomvattende uitspraak gemaak: “Aan My is gegee, alle mag in die hemel en op die aarde.” Die Bybel is vol daarvan dat die Here alleen Koning is. Dink maar wat staan in Ps. 99:1-3. “Die HERE is Koning; laat die volke bewe. Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder. Die HERE is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy.” Die koms van Jesus Christus is regdeur die Ou Testament geprofeteer. Dink maar aan Ps. 2:6-8 waar God die Vader en sy Seun sê: ‘Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” Die Seun van God het mens geword. Hy is die Koning van alle konings, en die Here van alle here en heerskappye. Met sy dood en opstanding het Hy ‘n Naam ontvang wat bò alle ander name is (Fil. 2:6-9). Met sy Hemelvaart het hy as Koning van alles en almal sy troon bestyg vanwaar Hy aktief regeer oor die hemel en die aarde. Dít is soewereiniteit. Dit is die alleenreg op alle heerskappy. Die Here Jesus Christus besit die oppergesag. Baie mense deur die eeue het dit al erken, maar dan splits hulle die hemel en die aarde, die geestelike en die materiële. Hulle maak dan die volgende uitspraak en aanspraak: Dit is so, sê hulle, God regeer in die hemel, maar hier op aarde het Hy sy gesag en heerskappy oorgedra en opgedra aan mense. Dan gebeur ‘n vreemde ding: mense begin namens God regeer. Mense verdring die heerskappy van God op aarde, en beweer en sê dat hulle dit in sy Naam doen. Hierdie stelling is gevaarliker as die Franse Rewolusie se leuen wat stel dat daar geen god of meester is nie. Enige iemand wat namens God iets doen, is niks anders as om jou eie hand uit te steek na God se troon – so iemand het net een doel: om Jesus Christus van sy troon af te druk. Laat ons mooi daaroor nadink. Watter dinge besluit ons self oor, maar sê dat ons dit namens God doen. Dit geld nie net in om persoonlike lewe nie, maar beslis ook vir ons volk se lewe. Watter dinge doen ons in weerwil van God se geopenbaarde wil. As ons so maak dan wil òns soewerein wees, in die plek van Hom wat God die Vader aangestel het daarvoor. Erken God se gesag Die uitspraak van ons Here Jesus Christus net voor sy Hemelvaart is dié soewereiniteit stelling by uitstek: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde”. Daar is ‘n mens in die hemel wat soewerein is. Hy is Jesus Christus, die Gesalfde met die Heilige Gees. Hy is ware God en ware mens. God die Vader het aan sy Seun alle mag gegee. Christus dra sy soewereine amp as Priester-Koning aan niks en niemand oor nie, volgens die Melgisédek orde (Heb. 7:23). Alle mag op aarde behoort aan Hom – dit sluit Orania en al sy mense in. Waar ons op die punt staan om ‘n nuwe grondwet vir Orania in werking te stel moet ons goed besef wat ons doen: Ons erken daarmee dat alle gesag van God afkom. Ons erken daarmee dat ons net een Soewerein erken: die Here Jesus Christus, wat as die Woord van God en deur die Heilige Gees alleen regeer. Wat ‘n ontsagwekkende gedagte. Watter groot verantwoordelikheid neem Orania nie op ons skouers nie. Ons wil ‘n gemeenskap opbou, ons wil ‘n volk se lewe so inrig dat die alleenreg van God, dat die soewereiniteit van Jesus Christus duidelik daaruit straal. Daarvoor is twee dinge dringend nodig. Laat ons ons eie ou natuur kruisig, laat ons ophou om self baas te speel oor ons lewe. Die Here regeer. En laat ons bid om die vervulling van die Heilige Gees. Laat Christus, as die Woord van God, alleen erken word as ons gesag. Mag die Gees van Christus sò ons lewe beheers, so alleen heers in ons lewe, dat God – wat liefde is – se eie liefde deel van ons hele lewe word. Mag Orania daardeur soos ‘n stad op ‘n berg wees, waar almal kan sien: Hier regeer God alleen. Alle mag in die hemele en op die aarde is aan Jesus Christus gegee. Laat ons ‘n stad en streek en staat opbou wat Hom só erken – as ons Soewerein.




