
dr Wikus Buys Die bekende woorde van die profeet Jesaja lui: “Die wat op die Here wag, kry nuwe krag.” (Jes. 40:30). Die boek Jesaja het twee hoofdele. Hoofstuk 40 lei die tweede deel van hoop en troos in. Die volk Israel is, vanweë hulle gewigtige en aanhoudende sondes teen God, swaar gestraf. Hulle is uit hulle land uit weggevat. Hulle is na Babilonië ontvoer en die tempel in Jerusalem is verwoes. Van hulle bekende godsdienstige en nasionale lewe het eintlik niks oorgebly nie. Die satan het deur die afgodery hulle ook nog verder getreiter – hulle is beproef en bedroef om te begin dink: dit is heeltemal klaarpraat met ons. Nie alleen het hulle begin twyfel of God hulle weggegooi en vergeet het nie, maar hulle geloof in God, in sy bestaan as regverdige en genadige God, het begin wankel. Dis op hierdie punt van die ergste nood en beproewing dat die profeet deur die Here gestuur word met die wonderlike woorde: ‘Troos, troos my volk, sê julle God.’ Die Here verseker die gelowiges in die ballingskap dat Hy aan hulle dink. Dat hulle skuld voor sy aangesig uitgedelg word en dat Hy hulle herstel belowe. Die beloftes van die God word vir elke gelowige ‘n “ja” en ‘n “amen” – slegs in die Here Jesus Christus (2 Kor. 1:20). God se beloftes het ewige drakrag. Ook ons ly dikwels onder allerlei beproewings. Dit toets ons geloof tot die uiterste toe. Dis baie swaar as mens begin besef dat jou toestand waarin jy verkeer nie maar toeval is nie – baie keer is ons situasie te wyte aan ons ongehoorsaamheid. Ons sondes het gevolge, veral sondes waarin ons volhard en met ‘n harde hart weier om ons te bekeer. Dan tug God se hand ons, dan val die houe. Soms voel dit vir ons ondraaglik. Menigmaal wil mens moed opgee, veral as die duiwel nog hard èn sag tot ons uitsis: ‘God het jou tog vergeet – want daar is eintlik geen God nie’. Ons volk beleef huidig baie beproewings, maar ons moet ook erken dat baie van die verdrukkinge is as gevolg van ons volk se openlike verlating van God. God is en bly met die Afrikaner besig – ook in ons aanvegtinge en verdrukkinge. Laat ons Jesus Christus weer opnuut in die geloof omhels. Alles wat God belowe word self waar in Jesus Christus. Sonder Christus het geen mens en geen volk enige hoop nie. Laat ons moed skep in moeilike tye. God het ons nie vergeet nie – inteendeel. God se binneste roer van aandoening. Laat ons op die Here wag, maar dan met ‘n bekeerde hart. ‘n Hart wat stukkend is – maar voor God. ‘n Hart wat vra na die Here. ‘n Hart wat wag op die Here. God belowe dat die een wat op Hom wag wel nuwe krag kry. Dit bewerk God self deur die Heilige Gees. Christus het nie verniet gesterf en opgestaan nie. Daar is krag in Hom want Hy is die Lewe self. Met die uitstorting van die Heilige Gees bring
God letterlik sy eie krag in ons lewe in. Dit geld ook vir ons volk se lewe. Laat nie een van ons verder ons rug op God draai nie. Laat ons mekaar opwek ons saam na God te luister en Hom alleen te aanbid. Staak wat ons weet God se goedkeuring nie wegdra nie. God het nie sy beloftes vergeet nie. God straf nie sy kinders wreed en onophoudelik nie. God het sy volle straf op Christus voltrek. Vir God se kinders is beproewings nie straf nie, dis loutering. Dit wil ons fiks maak in die geloof. Dit wil ons laat wag – juis sodat ons nuwe krag kan kry. In Orania gaan ons ook nou baie nuwe krag nodig hê. Laat ons met die Gees van Christus vol word. Laat ons daarin ‘n navolgbare voorbeeld vir almal wees. Ons wag want ons weet: ons krý nuwe krag. Christus het opgestaan. Die Gees van Christus gee nuwe krag – ook vir ‘n volk wat weer wil lewe.




